Marble Hall: Moontlike protesaksie ná uitsettingsbriewe
Verskeie WhatsApp groepe het vanoggend gewaarsku dat daar ’n moontlikheid is vir protes-aksies in Marble Hall, nadat uitsettingsbriewe aan die bewoners van Koteng gegee is.
Die onwettige plakkers van Koteng, Plaas Loskop Noord 12 JS, het briewe ontvang vanaf die Ephraim Mogale Plaaslike Munisipaliteit, dat die stuk grond verlaat moet word voor 15 Desember.
Die brief is gedateer Maandag, 1 Desember, maar is, volgens inligting, eers gister aan hulle oorhandig.
Die redes wat die munisipaliteit gegee het, is dat die onwettige strukture op die munisipale serwituut gebou is wat rioolverstoppings veroorsaak het, dit geleë is binne ’n area waar daar met plofstof geskiet word (naby ’n myn), die nedersetting hou ’n risiko vir gesondheid en veiligheid in, is in stryd met munisipale regulasies en as gevolg van hoë misdaad in die area.
Die bewoners het vanoggend saamgedrom in Koteng om hul misnoeë oor die uitsettingsbriewe uit te spreek en Marble Hall inwoners is gewaarsku dat ’n die moontlikheid vir ’n protes-aksie kan ontstaan.
Verskeie WhatsApp groepe het teen die moontlikheid van ’n protesaksie gewaarsku.
• Daar is nog geen insidente aangemeld nie.
