Stééds bruis die massas water oor Loskopdam se wal
Die skouspelagtige prentjie van Loskopdam wat oorloop is altyd ’n groot aantrekking vir enige Valleier of besoeker.
Daar is gedurende die naweek verskeie foto’s deur inwoners met die Observer Daller gedeel van Loskopdam wat steeds oorloop.
Loskopdam het reeds op 9 November begin oorloop met water wat eers stadig oor die wal gestoot het, maar met die mildelike reënval in die omgewing, het die bietjie water wat oor die wal gevloei het, in bruisende massas water verander.
Teen verlede Vrydag het Loskopdam se damstandlesing op 103.7% gestaan.

Maandagmiddag is daar ’n sluis van Middelburgdam geopen nadat die dam op 99% gestaan het en kort voor druktyd het dit reeds Loskopdam bereik.
Flag Boshielodam staan op 108.9%, Buffelskloof op 101.2%, Blyderivierpoort op 100.9%, Nooitgedacht op 100%, De Hoopdam op 102.3%, Witbankdam op 96.9% en Ohrigstaddam op 52.3%.
Daar kan verwag word dat Loskopdam nog ’n geruime tyd sal oorloop.
