Flits by streeksfees en Interhoër
Die toneelgroep van Hoërskool Ben Viljoen het met hul toneelstuk, Flits, aan twee uitsoekkompetisies deelgeneem.
Hoërskool Ben Viljoen se toneelgroep het aan die Aardklop Pronkpodium se streeksfees, asook by die Interhoër toneelkompetisie deelgeneem met die toneelstuk Flits.
Die toneelstuk is geskryf deur Inamari Schoonraad van Inamari.
Die Aardklop Pronkpodium streeksfees het by HTS Witbank plaasgevind.
Met die toneelgroep se kenmerkende styl, energie en toewyding het hul optrede die gehoor se hartsnare geroer met die rou emosie van hierdie toneelstuk.
Hulle verwerf die volgende toekennings:
• Jadink Klopper: Silwer vir Beligtingsontwerp en brons vir Beligtingsoperateur.
• Carlia Kirchner: Silwer vir Spel.
• Shawn Govender: Brons vir Klankontwerp en as Klankoperateur.
• Zenobia van der Westhuizen: Brons vir Kostuumontwerp.
• Ensemble: Brons.
• Teks: Silwer.

Die toneelspan het weer daarna aan die Interhoër toneelkompetisie deelgeneem by Hoërskool Frikkie Meyer.
Die deelnemende skole het behoorlik die verhoog aan die brand gehad om as die beste in die Bosveld gekroon te word.
Hierdie kompetisie was die toneelgroep se laaste optrede vir die toneelseisoen en het hul dit behoorlik op ’n groot hoogtepunt afgesluit.

Vanjaar verwerf hierdie span ’n algehele tweede plek, asook die toekenning vir die beste Ensemble-spel.

Chenél Grundling is ook as die beste aktrise uit Hoërskool Ben Viljoen aangewys. Sy vertolk die rol van Cecelia, ’n 68-jarige inwoner van Williston, Shira se mentor en “tweede ma”. Die een wie haar aanmoedig om die droogte in haar lewe te stop en haar drome na te jaag.



