Observer Daller

Hoërskool Ben Viljoen: Graad 12 sluit af met klokluiseremonie

Hoërskool Ben Viljoen se graad 12 leerlinge het met klokluiseremonie en kerkdiens afskeid geneem van hul skool.

Die graad 12 klokluiseremonie is nie net ’n afskeid van hul skooldae nie, maar dit was ook die viering van ’n nuwe begin vir die matriekgroep.

Die Hoërskool Ben Viljoen graad 12 klokluiseremonie en kerkdiens is aangevul met emosie, simboliek en trots.

A man and a young woman, both in green blazers, stand smiling and shaking hands under a bell. A small group watches from a well-lit room behind.
Mnr. John Smith (skoolhoof) saam met Simoné Naude. Foto: Verskaf.

Me. Anneke Snyman het in haar inspirerende boodskap die matrikulante, ouers en onderwysers herinner dat hierdie aand ’n keerpunt is, “die einde van ’n hoofstuk wat oor 12 jaar geskryf is, en die begin van een wat nog geskryf moet word.”

Sy het die matrieks aangemoedig om trots terug te kyk op die pad wat hulle gestap het, en met moed en geloof vorentoe te beweeg in die onbekende toekoms.

Sy het drie eenvoudige, maar betekenisvolle beelde gebruik: ’n Paar skoene, ’n flits en ’n pen. Hierdie drie voorwerpe simboliseer die pad wat die matrieks al gestap het, die lig wat hulle op hul lewenspad moet laat skyn, en die storie wat hulle self in die toekoms gaan skryf.

“As hierdie skoene kon praat, sou hulle baie unieke stories van elke matrikulant se lewe vertel het.” Sy het die leerders herinner dat hulle nou die tyd bereik het om die skoene van hul skoolloopbaan uit te trek en die volgende paar aan te trek, dié wat hulle verder in die wêreld sal dra.

“Lux Hominum Vitae”, wat beteken, “Lig is die lewe vir die mensdom” was haar besondere boodskap.

“Matrieks, dit is nou julle beurt om julle liggies te laat skyn, vir julleself, vir julle ouers, vir julle onderwysers en vir oulaas, vir julle skool.”

Sy het hulle herinner dat elkeen uniek is en dat elke mens ’n lig op sy lewenspad nodig het. Sy het hulle aangemoedig om ligdraers te wees in ’n wêreld wat soms donker voel, om altyd getrou aan hulself te bly, en om hul drome met moed en nederigheid na te jaag.

Two men in green blazers with yellow stripes shake hands under a sign that reads "UR 2025 DIE BEN KLOK." A crowd watches in the background.
Mnr. John Smith (skoolhoof) saam met NJ de Wet. Foto: Verskaf.

Aan die ouers en onderwysers het sy haar dank uitgespreek: “Julle was die stil helde agter elke prestasie… dankie vir elke oomblik van tande kners, aanmoediging en liefde.”

Sy het beklemtoon dat sukses nie slegs gemeet word aan punte nie, maar aan karakter, uithouvermoë en die manier waarop ’n mens ander hanteer.

Die seremonie is afgesluit met ’n simboliese oomblik van eenheid en dankbaarheid. Die onderwysers en ouers is na die middel van die saal genooi, terwyl die matrieks ’n laer om hulle gevorm het, ’n kring van respek en waardering.

Toe die ligte verdof, het die matrikulante hul flitsligte na die dak toe opgehou, terwyl You Raise Me Up gespeel het.

Na die seremonie is almal na die Gedenktuin, waar die klokluiseremonie amptelik afgeskop is. Die Ben Klok is vir die eerste keer gelui, ’n projek van die Uitvoerende Raad van 2025.

Wanneer die klok in die toekoms lui, sal dit almal altyd herinner aan die woorde van me Snyman: “Jy is die outeur van jou eie storie. Laat jou lig skyn. Loop dapper in jou nuwe skoene. Die wêreld wag”.

Two men stand under a sign reading "UR 2025 DIE BEN KLOK," shaking hands. One wears a green and yellow striped jacket, the other in school uniform. A bell hangs above.
Mnr. John Smith (skoolhoof) saam met Corné van Zyl. Foto: Verskaf.

Lees ook: Groblersdal: Ben Klok ingewy

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button