Elzanie du Toit maak naam
’n Oud-leerling van Hoërskool Ben Viljoen en oud-inwoner van Groblersdal het haar eie kortfirlm gemaak en is tans besig om ’n naam in die Suid-Afrikaanse film-en televisiebedryf te bou.
Elzanie du Toit, deel van die Hoërskool Ben Viljoen klas van 2020, het ’n inspirerende loopbaanpad gevolg en haar eie kortfilm gemaak.
Sy bewys dat jou drome binne bereik is wanneer jy hard werk, volhard en in jouself glo – ’n les wat sy jare gelede reeds in die gange van Hoërskool Ben Viljoen geleer het.
“Elkeen by Ben Viljoen het my laat voel dat dit nie saak maak waar jy vandaan kom nie. As jy bereid is om hard te werk, sal jou drome realiseer.”
Na matriek het Elzanie haar passie vir verhoog- en filmkunde nagejaag en drama gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy haar graad, BDram, voltooi het. Haar unieke talent en werksetiek het vinnig begin vrugte afwerp.
Sy het reeds op verskeie produksies gewerk – die soort geleenthede waarvan sy van kleins af gedroom het.
Elzanie se CV groei teen ’n indrukwekkende tempo. Sy het onder andere gewerk aan: Die Reënboogrant-reeks, ’n Showmax-reeks wat binnekort vrygestel word, asook ’n Kyknet-mini-reeks wat in Desember bekendgestel word.
Haar professionele werk agter die skerms is egter ’n bewys dat sy nie net oor talent beskik nie, maar ook oor deursettingsvermoë en kreatiewe visie.
Een van Elzanie se grootste prestasies is haar eie kortfilm, ‘Sokkie Speurtoer’. Sy het die konsep self geskep, die draaiboek geskryf, én regie gedoen, ’n reuse prestasie vir enige jong filmmaker.
Dié kortfilm kan op Youtube gekyk word.
Elzanie is ’n voorbeeld van wat moontlik is wanneer talent en harde werk saamspan. Haar suksesstorie maak Hoërskool Ben Viljoen trots, en haar reis dien as inspirasie vir huidige en toekomstige Dallers wat groot drome koester.
Die Valleiers sien uit om nog baie van Elzanie te hoor in die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf!
