Fondse benodig om jong rugbyspeler se voet te red
’n Jong rugbyspeler van Hoërskool Ben Viljoen benodig ’n dringende operasie weens sepsis in sy regtervoet.
Xander Snyman (16), ’n graad 10 leerling van Hoërskool Ben Viljoen, het weens ’n rugbybesering ’n abses ontwikkel in sy voet.
Hierdie abses het in ’n ernstige infeksie, genaamd sepsis, ontaard.
Xander is ’n kranige rugbyspeler wat vir Hoërskool Ben Viljoen se o/16A rugbyspan uitgedraf het.
Hy moet more dringend opgeneem word in die Life Midmed Hospitaal, sodat ’n stuk van die beentjie in sy voet uitgesny kan word.
Xander sal vir agt dae in isolasie geplaas word, waartydens hy minstens drie oprasies sal ondergaan om sy voet te red.
Daar is groot finansiële druk op Xander se familie vir die mediese onkostes, wat tans R185 037.33 beloop.
Die gesin het die nuus oor die dringendheid van die operasie laat vanmiddag ontvang. Hulle het sopas ’n BackaBuddy profiel begin om broodnodige fondse in te samel.
Enige persoon wat ’n bydrae wil maak, groot of klein, kan ingaan op dié SKAKEL.
