Tweede operasie vir Xander
’n Jong rugbyspeler van Hoërskool Ben Viljoen sal more sy tweede operasie kry weens ernstige infeksie in sy regtervoet.
Die graad 10 leerling van Hoërskool Ben Viljoen, Xander Snyman, het reeds Dinsdagaand sy eerste operasie ondergaan by Life Midmed Hospitaal.
’n Stuk van ‘n beentjie in sy voet, wat reeds dood is as gevolg van die infeksie, is uitgesny, nadat Xander ’n abses in die voet ontwikkel het.
Xander sal more (Vrydag) die tweede operasie kry, waar die wond weer behoorlik gespoel en skoongemaak sal word, en met die sterkste beskikbare antibiotika ‘gepak’ sal word.
Volgens Xander se pa, Johan, is die dokter tans tevrede, maar is daar wel steeds bekommernisse.
“Die dokters is tans nog besig om die virus te identifiseer. Xander is op baie sterk antibiotika en sal Dinsdag moontlik vir sy derde operasie moet gaan,” vertel Johan.
Hy sê daar is min dinge wat Xander se gemoed negatief kan affekteer en “hy gaan goed aan.”
Die familie bedank ook almal vir hulle gebede, bydraes en goeie wense. Dit word opreg waardeer.
Daar is egter nog groot finansiële druk op Xander se familie vir die mediese onkostes. Enige persoon wat ’n bydrae wil maak, groot of klein, kan ingaan op dié SKAKEL.
