Riool stroom voor kerk verby
Rou riool borrel tans uit by ’n mangat by die Hervormde Kerk in Springbokstraat in Groblersdal.
’n Verstopping op die rioolleiding in Springbokstraat, veroorsaak dat rou riool sedert Sondag by ’n mangat langs die ingang van die Hervormde Kerk in Groblersdal uitborrel.
Die riool vloei ook verby verskeie huise in die omgewing en veroorsaak ’n haglike stank.
Die verstopping is reeds verskeie kere aan die Sekhukhune Distrik Munisipaliteit (SDM) gerapporteer, waarna daar Maandag en Dinsdag (gister) gepoog is om die verstopping by die mangat oop te maak. Vanoggend borrel die rou riool egter steeds by die mangat uit.
Volgens mnr. Willie Oosthuizen (wykraadslid) het die SDM aan hom gesê dat hul weer sal uitgaan, hierdie keer met ’n rioolpomptrok (honeysucker) om die riool uit die verstopping te suig.
“Die verstopping word egter nie op dié manier opgelos nie en sal die munisipaliteit ’n plan moet maak om die verstopping self oop te kry, anders sal die riool oor ’n paar dae net weer by die mangat uitvloei,” sê mnr. Oosthuizen.
• Daar is uitgereik na mnr. Lemson Moropyane, woordvoerder van die SDM, wat die volgende gesê het: “Ons is tans besig om ’n hoëdrukstraalmasjien teen Maandag volgende week te huur, aangesien dit die enigste effektiewe metode is om die probleem op te los. Dit is ‘n onderhoudsverwante probleem. As ‘n langtermyningryping sal die munisipaliteit in die komende boekjaar ‘n infrastruktuurassessering doen met die doel om die betrokke infrastruktuur op te gradeer”.
