Hoërskool Ben Viljoen: Huis Cherié hou MasterChef-aand
Huis Cherié se MasterChef-aand het leerders uitgedaag om unieke en smaakvolle disse met rys as hoofbestanddeel te skep.
Huis Cherié, Hoërskool Ben Viljoen se dogterskoshuis het ’n suksesvolle en smaakvolle MasterChef-aand aangebied waar leerders hulle kulinêre talente behoorlik ten toon gestel het.
Die uitdaging? Om uiteenlopende en kreatiewe disse met rys as hoofbestanddeel te skep.
Die leerders het behoorlik beïndruk met hul vernuf, spanwerk en oorspronklikheid. Van geurige soutgeregte tot heerlike soet skeppings – rys was beslis die ster van die aand.
’n Interessante feit oor rys is dat dit ’n wêreldwye stapelvoedsel is vir meer as die helfte van die wêreldbevolking. Daar bestaan tussen 40 000 en 120 000 verskillende variëteite, en dit word op elke kontinent, behalwe Antarktika, verbou. Hierdie nederige graan verbind kulture regoor die wêreld en het dit ook Huis Cherié se leerders saamgesnoer in ’n gees van kreatiwiteit en gesonde kompetisie.
Die graad 12’s is as wenners van die aand aangewys. Die graad 11’s het ’n welverdiende tweede plek behaal, terwyl die graad 10’s in die derde plek geëindig het.




