Vars energie by Gromar-klaskamers
Gromar Landbou Akademie se klaskamers kry nuwe inspirasie met drie Aros-studente wat reeds ’n sterk bydrae tot daaglikse onderrig lewer.
Gromar Landbou Akademie het drie studente tydens hul proeftydperk hartlik by die skoolgemeenskap verwelkom.
Die studente, wat almal hul studies deur Aros voltooi, het reeds ’n merkbare en positiewe bydrae tot die skool se akademiese en opvoedkundige omgewing gelewer.
Minette Jooste, ’n tweedejaarstudent in die Intermediêre Fase, spesialiseer in Sosiale Wetenskappe en Lewensvaardighede.
Sy is vergesel deur Ane du Plessis, wat tans haar finale jaar in die Intermediêre Fase voltooi met Wiskunde en Wetenskap as hoofvakke.
Die derde student, Andre van Dyk, is besig met sy NGOS-studies en fokus op Engels Addisionele Taal.
Volgens personeel het die studente hulself onderskei deur hul entoesiasme, toewyding en bereidwilligheid om betrokke te raak in die klaskamer. Hul vars perspektiewe en ywer het nie net tot die leerervaring van die leerders bygedra nie, maar ook waarde tot die skool se daaglikse funksionering gevoeg.
Gromar Landbou Akademie het hul opregte dank uitgespreek vir die studente se harde werk en positiewe invloed. Die skool wens elkeen van hulle alle seën en sukses toe met hul verdere studies en toekomstige loopbane.
