Observer Daller

Man wat bejaarde Roossenekal-boer vermoor het, gevonnis

Die man wat vir Robert Stoltz op sy plaas buite Roossenekal vermoor het, is tot 19 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Die Polokwane Hooggeregshof het Maandag vir Bobo Mokoena Mathibe (26) tot ’n effektiewe 19 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die moord op die 78-jarige Robert Stoltz van die plaas Stofkraal, in die Hartelus-omgewing buite Roossenekal.

A young man with short hair is depicted in a headshot-type photo with the words “Accused” written underneath the photo.
Bobo Mokoena Mathibe (26). Foto: Verskaf/Limpopo SAPD.

Mnr. Stoltz, ’n geliefde pa en oupa, is op 30 April 2025 wreed vermoor tydens ’n aanval by sy plaaswoning.

Volgens getuienis in die hof, is Stoltz buite sy huis aangeval en ernstig aangerand met ’n staalstaaf. Nadat hy bewusteloos was, is hy daarna die huis ingesleep, waar sy hande agter sy rug vasgebind en ’n lap in sy mond gedruk is. Hy het later aan sy beserings beswyk.

Die aanvallers het daarna die huis deursoek en met sowat R3 000 kontant, ’n windbuks en Stoltz se blou Chery gevlug.

Sekuriteitsbeeldmateriaal het gewys hoe die verdagtes omstreeks 18:45 met die voertuig van die toneel wegjaag. Die voertuig is later langs die R555 naby Steelpoort gevind nadat die bestuurder beheer verloor en die motor gerol het. Die verdagtes het toe reeds van die toneel gevlug.

Bosveld Misdaadondersoeke het kort ná die moord ’n beloning van R15 000 aangebied vir inligting wat tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die moordenaars sou lei.

Met deeglike ondersoekwerk en samewerking tussen verskeie rolspelers is Mathibe op 18 Mei 2025 by sy werksplek in die Laersdrif-omgewing gearresteer. Die ondersoek is ondersteun deur Bosveld Misdaadondersoeke, die Groblersdal Distrik Opsporingseenheid, Roossenekal-polisie, Laersdrif-polisie, die Stoffberg Boerevereniging, De Hoop Plaaswag en die Transvaalse Landbou Unie se Oosstreek.

Daar is later ook beslag gelê op ’n haelgeweer wat tydens ’n vorige inbraak by Stoltz gesteel is. Tydens verdere deursoekings in Laersdrif is verskeie ongelisensieerde vuurwapens en groot hoeveelhede ammunisie ontdek.

A woman in a white turtleneck and black coat stands outside. She wears large hoop earrings. The background features green foliage and a clear blue sky.
Ondersoekbeampte Sersant Millicent Mogomogane van die Roossenekal-speurders. Foto: Verskaf/Limpopo SAPD.

Mathibe het sy eerste verskyning in die Groblersdal Landdroshof gemaak op 20 Mei 2025 waarna die saak later na die hooggeregshof oorgeplaas is.

Die hof het hom 19 jaar gevangenisstraf opgelê vir moord en 10 jaar vir roof. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat beteken hy sal effektief 19 jaar tronkstraf uitdien.

Lees ook: Familie van vermoorde man: ‘Sy lewe sal altyd in ons herinneringe voortleef’

Lees ook: Deurbraak in Robert Stoltz moordsaak – verdagte in hof vandag, talle wapens, ammunisie gevind

Lees ook: Beskuldigde in Robert Stoltz plaasmoord wys borg van die hand

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button