Dallers vier eenheid en omgee
Hoërskool Ben Viljoen het Internasionale Familiedag gevier deur eenheid, ondersteuning en Dallerwaardes onder leerders te beklemtoon.
Met Internasionale Familiedag wat op 15 Mei wêreldwyd gevier is, het Hoërskool Ben Viljoen se Bevonkte ATKV Jeugtak die geleentheid gebruik om die waarde van familie, verbondenheid en samehorigheid onder leerders te beklemtoon.
As deel van die vieringe is daar gedurende die week tydens opening daagliks interessante idiome met leerders gedeel. Die idiome het gefokus op temas soos familie, ondersteuning, lojaliteit en die belangrikheid daarvan om saam deur uitdagings en oorwinnings te staan.

Volgens die skool het die kreatiewe inisiatief nie net taalbevordering op ’n prettige manier aangemoedig nie, maar ook waardevolle lewenslesse aan leerders oorgedra.
Die projek het ten doel gehad om jongmense bewus te maak van die belangrike rol wat familie en gemeenskap in elke persoon se lewe speel.

By Hoërskool Ben Viljoen word hierdie waardes daagliks uitgeleef. Die skool glo dat familie nie net deur bloed bepaal word nie, maar ook deur mense wat mekaar ondersteun, aanmoedig en saam groei.
Onderwysers, personeel, ouers en leerders vorm saam ’n hegte gemeenskap waar elke individu welkom voel en deel word van die groter Ben Viljoen-familie.

Die vieringe het volgens die skool opnuut bevestig dat die trots van ’n ware Dallerhart diep gewortel is in waardes van omgee, ondersteuning en eenheid. Hierdie verbondenheid skep ’n veilige en ondersteunende omgewing waar leerders nie net akademies ontwikkel nie, maar ook emosioneel en sosiaal groei.
Die skool is verder trots daarop dat baie alumni se kinders vandag deel vorm van die Hoërskool Ben Viljoen-familie. Hierdie generasieband beklemtoon die unieke karakter van die skool waar tradisies, waardes en trots van een geslag na die volgende oorgedra word.

Internasionale Familiedag het weer eens gewys dat familie baie vorme aanneem en dat elke leerder, ouer en personeellid deel is van een groot uitgebreide Dallerfamilie.




