Chubby Chick-beskuldigde pleit noodweer ná skietdood van Fourie-broers

’n 75-jarige beskuldigde het aan ’n Potchefstroomse streekshof gesê dat hy geglo het dat die broers hom wou vergiftig, terwyl ’n sielkunidige getuig het dat hy aan vervolgingswaan en psigose ly.

Robert Joubert (75), wat daarvan beskuldig word dat hy die Fourie-broers by die Chubby Chick-hoenderonderneming in Potchefstroom doodgeskiet het, voer aan dat hy uit noodweer opgetree het omdat hy geglo het dat hulle hom probeer vergiftig het, berig Potchefstroom Herald.

Die saak is Woensdag (18 November) in die streekhof in Potchefstroom voortgesit, waar Claire Hearne, ’n sielkundige, getuig het oor Joubert se weergawe van die gebeure tydens haar sielkundige evaluering van hom.

Joubert het volgens Hearne erken dat hy Jonathan Fourie (52) en sy broer Deon (55) op 10 November verlede jaar geskiet het. Jonathan is op die toneel dood, terwyl Deon sowat ’n maand later weens komplikasies van sy skietwonde oorlede is.

Volgens Hearne het Joubert vertel dat hy aanvanklik ongewapen by ’n afspraak met die broers opgedaag het. Hy het hulle gekonfronteer met sy oortuiging dat hulle hom probeer vergiftig. Ná die gesprek het hy glo gevoel asof hy ‘op die rand van ’n afgrond staan’.

Hy het daarna sy Beretta-pistool gaan haal, dit onder sy baadjie versteek en na die kantore teruggekeer. Volgens sy weergawe het hy die broers onder die voorwendsel dat hy sy sleutels vergeet het, terug na die raadsaal gelok, waar hy hulle geskiet het.

Die staatsaanklaer, Hester Pretorius, het aangevoer dat die gebeure op voorafbeplanning dui. Sy het daarop gewys dat Joubert reeds dae voor die skietery die afspraak gereël en die vuurwapen uitgeboek het.

Hearne het egter getuig dat Joubert aan waanidees, insluitend vervolgingswaan, en psigose ly. Volgens haar kan sy waandenke daartoe lei dat hy nie rasioneel tot sy eie verdediging kan bydra nie, hoewel hy oënskynlik die regsproses verstaan.

Sy het ook toegegee dat haar bevindinge uitsluitlik op Joubert se eie vertellings gegrond is.

Die verdediging het aansoek gedoen dat Joubert vir verdere sielkundige en psigiatriese waarneming verwys word om sy geestestoestand te bepaal.

Lindiwe Mabasa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die saak tot 9 Desember uitgestel is. Die hof sal dan die aansoek oorweeg om Joubert na ’n geestesgesondheidsinrigting vir evaluering te verwys.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.
Back to top button