Kallie Kriel bly in Suid-Afrika: Hoekom moet ’n mens kies?

Terwyl duisende Suid-Afrikaners oorsee ’n nuwe toekoms bou, glo AfriForum se uitvoerende hoof daar is steeds rede om hier te bly en saam met ander gemeenskappe aan die land te bou.

Dit is ’n bewolkte dag in Pretoria.

Net soos die donker, droewige wolke wat oor die burgerregtegroep AfriForum se hoofkantoor in Lyttelton, Centurion, hang, is Suid-Afrikaners se gemoedere ook bedroef: Die dieselprys staan tans op meer as R30 per liter, daar was nog ’n plaasmoord, in Ekhurhuleni hoop die liggame op en op die Kaapse Vlakte lê nog ’n kind met ’n koeël in die kop.

Maar Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, tjirp soos ’n voëltjie – oor AfriForum se suksesse, samewerking met ander gemeenskappe, hoop en ‘dinge wat gaan beter word’ – al lyk dit nou asof sy Suid-Afrika besig is om in duie te stort.

“Ek dink my groot taak is om elke dag mense te inspireer. My benadering is informeel en energiek. Ek probeer altyd om positief te bly,” sê hy, ‘al noem sommige mense hom ’n adder aan die Suid-Afrikaanse boesem.’

Hy wurg aan die galg – sy das – wat al die hele oggend om sy nek span. Hy wikkel dié knelpunt losser. Sy skouers en lyf ontspan.

Hy wil aanvanklik net oor politiek praat; oor die baie nuwe lede wat AfriForum gewerf het en oor onlangse navorsing wat gewys het dat net 18% van die respondente nie van AfriForum en sy werk bewus is nie.

En dan oor die Afrikaner. Oor identiteit.

Maar as ’n mens eers vir Kriel laag vir laag begin afskil, word hy al hoe meer Suid-Afrikaner en dalk net ’n bietjie minder Afrikaner. “Jy hoef nie minder Afrikaner te word om meer Suid-Afrikaner te word nie,” kry hy ’n stekie in.

Want, sê hy, die meeste rassegroepe in die land deel baie dieselfde waardes.

“Ongeveer 80% van Suid-Afrikaners deel wat jy gemeenskapswaardes of sosiaal-konserwatiewe waardes kan noem. Dit is nie noodwendig ’n politieke konsep nie.

“Respek vir ouer mense is belangrik. ’n Gevoel van behoort en verbondenheid aan jou gemeenskap is belangrik. ’n Veilige omgewing vir jou gesin is belangrik. Dit is die dinge wat mense eintlik saambind.”

Suid-Afrikaners, sê hy, kan humor in die eienaardigste situasies raaksien.

Suid-Afrikaners, sê hy, weet almal wie Leon Schuster is.

Suid-Afrikaners, sê hy, hou van bier en braaivleis. Hy ook.

Tog sê hy: “Ons het ’n veelvuldige identiteit. Die probleem ontstaan wanneer mense sê jy moet kies: Is jy ’n Afrikaner of is jy ’n Suid-Afrikaner?

“Hoekom moet ’n mens kies? Jy kan ’n klomp dinge tegelyk wees. Ek kan ’n Afrikaner wees. Ek kan ’n Christen wees. Ek kan ’n pa wees. Ek kan ’n Blou Bul-ondersteuner wees. Ek kan ’n Pretorianer wees. Ek kan ’n Suid-Afrikaner wees.

“Ek dink dit is juis wat ons in hierdie land moet aanvaar. Ons moet nie probeer om mense in een boks te druk nie.”

Uittog aan die gang

Kriel kan nie ontken dat daar ’n uittog aan die gang is nie. President Cyril Ramaphosa stem ook hiermee saam: Vaardighede, kennis en rande is besig om stelselmatig uit die land te sypel. Luidens die jongste syfers woon daar nou meer as een miljoen Suid-Afrikaners oorsee. En baie van hulle wil nie terugkom nie.

Kriel is nie een van dáárdie nie. Hy glo daar is steeds hoop om die land te red en daarom vat hy nie sy goed en gaan soos ‘Jannie-met-die-hoepelbeen’ na groener rusplekkies oorsee nie.

“Ek is baie dankbaar vir my gesin en vir hoe dinge uitgewerk het. Ek het vier kinders wat, genadiglik, almal nog in die land is en wat lief is vir hul lewe hier – hulle glo daar is wel ’n toekoms in die land.

“Een van my dogters doen haar gemeenskapsjaar in ’n staatshospitaal. Sy vertel ons van die uitdagings wat sy daar ervaar, en sommige van die omstandighede is verskriklik. Maar sy geniet haar werk en wil ’n bydrae lewer. Dit is vir my positief.”

Baie emigrante voer aan dat hulle ‘die besluit vir hulle kinders se toekoms’ geneem het.

Kriel het juis ter wille van sy kinders besluit om nie te emigreer nie.

“Ek bly hier, want dit is hier waar ek wil wees. Afrikaners kan ook net hier, aan die suidpunt van Afrika, as kultuurgemeenskap volhoubaar voortbestaan. Indien jy die land verlaat, sal jou nageslag mettertyd in ’n ander kultuurgemeenskap assimileer. Die prys van kulturele afstand wat deur emigrasie ontstaan, is vir my eenvoudig te groot.”

Hy sê hy het mense ontmoet wat vertel dat die lewe in die vreemde nie noodwendig lekker of maklik is nie en dat dit tyd neem om aan te pas.

“Maar dan sê hulle: ‘Ek doen dit vir my kinders. Ek maak hierdie opoffering vir my kinders’.

“Ek respekteer dit. Hulle het ’n besluit geneem wat hulle opreg glo die beste vir hulle kinders is. Ek kan nie sê hulle is verkeerd en ek is reg nie. Ek het my besluit geneem en hulle het hulle besluit geneem.”

Nie negatief teenoor ‘vlugtelinge’ nie

Teen die begin van September het reeds 10 000 Suid-Afrikaners, waaronder baie Afrikaners, van president Trump se vlugtelingaanbod gebruik gemaak. Kriel is nie negatief teenoor die ‘vlugtelinge’ nie, maar hy sal graag wil sien dat Afrikaners ook hier as ’n gemeenskap kan voortbestaan.

“Dit beteken nie ek sê iemand wat op ’n vliegtuig klim en na ’n ander land verhuis, sal nie meer ’n Afrikaner wees nie. Jy sal waarskynlik as ’n Afrikaner sterf. Maar hier het ons die infrastruktuur om Afrikaanse skole, kerke en ander instellings te hê.

“As jy oorsee woon, kan jy steeds jou kinders Afrikaans leer, maar jy kan hulle nie heeltemal van die land waarin hulle grootword isoleer nie. Hulle gaan waarskynlik Engelse skole bywoon en in ’n ander kulturele omgewing grootword. Ek dink dit is ’n belangrike deel van waarom ek hier wil bly.”

Kriel sê daar is in Amerika erkenning van die gevaar van onteiening en van die probleem van plaasmoorde. “Ons probleem is egter met die oplossing wat aangebied word, naamlik om mense aan te moedig om Suid-Afrika te verlaat. Ons benadering is anders. Ons sê nie vir mense hulle móét bly nie, maar ons sê ons gaan bly en hier werk aan oplossings.

“Daar was mense wat baie emosioneel geraak het en gevra het: ‘Wie is julle om vir ons te sê ons moet bly?’ Maar ons sê vir niemand hulle moet bly nie. Dit is ons keuse om aan die toekoms van ons gemeenskap en ons land te werk.”

Nié te beïndruk met Amerika

Piet Croucamp sou dalk tuis gevoel het in Amerika – Kriel nie.

In Februarie verlede jaar het Kriel en ‘n paar ander die pad gevat na Washington om hulle griewe oor Suid-Afrika aan president Donald Trump te rig. Kritici verwys spottenderwys na die manne van AfriSol (AfriForum en Solidariteit) – Jaco Kleynhans, Flip Buys en Dirk Hermann – as ’n ‘boksombende’.

Dit was Kriel se derde besoek aan Amerika, maar hy was nie té beïndruk met die land nie. “Washington was vir my baie interessant omdat dit ’n historiese plek is wat spesifiek as die hoofstad gevestig is. Hollywood het my glad nie beïndruk nie. Die stad is baie vervalle en jy sien ook maar haweloses en dwelmverslaafdes. Dit het vir my gevoel asof my verbeeldingsprentjie nie dieselfde as die realiteit was nie.”

Die mense in die suide van Amerika verskil ook baie van dié van die noorde, sê hy. “Die mense in die suide het meer konserwatiewe waardes en is ook meer tradisievas.”

‘Make South Africa great again’

Vir Kriel lê die oplossing vir die land se probleme nie daarin dat Afrikaners hulle van die res van die land afsonder nie, maar juis daarin dat verskillende gemeenskappe leer om langs mekaar te leef en saam verantwoordelikheid vir die land te aanvaar.

“Die land wat ons wil bou, is nie ’n land wat nog moet ontstaan nie. Dit is ’n gemeenskap van gemeenskappe,” sê hy.

Volgens Kriel kan mense verskillende identiteite hê en steeds ’n gemeenskaplike grondslag en waardes deel. Hy wys daarop dat die Grondwet self van ‘eenheid in verskeidenheid’ praat.

“Ek dink dit is belangrik dat ons dit prakties uitleef.”

Dit is ook waarom Kriel onlangs ’n toespraak voor die Batlokoa Ba Mota-gemeenskap in die Vrystaat in Noord-Sotho gelewer het. Hy het elke woord foneties geleer, sê hy. “Dalk het ek nie die woorde so reg uitgespreek nie, maar ek het geoefen.”

Kyk na die video hier:


Dit is ook waarom hulle bereid was om met die leiers van March and March, ’n Suid-Afrikaanse burgerlike beweging, om ’n tafel te sit, sê hy.

Vir hom beteken dit dat Afrikaners nie hulle identiteit hoef prys te gee om deel van Suid-Afrika te wees nie. Maar dit beteken ook dat identiteit nie as ’n maatstaf vir meerderwaardigheid gebruik moet word nie. “Ons kan trots wees op wie ons is sonder om te dink ons is beter as iemand anders.”

Kriel glo uiteindelik dat Suid-Afrika se toekoms nie bepaal sal word deur watter gemeenskap die hardste praat nie, maar deur mense wat bereid is om verantwoordelikheid te neem, verhoudings te bou en verskille te oorbrug.

In 2023 het Kriel saam met ’n groep Afrikaanse sangers op ’n wêreldwye toer gegaan. Hy was net saam met hulle by een van die optredes. Daar het Bok van Blerk sy treffer Ons vir jou Suid-Afrika gesing.

Kriel het saamgesing, sy hand teen sy bors gedruk terwyl trane oor sy wange gerol het.

Amerika: Die land van drome

Caxton Netwerk-nuus het die afgelope paar weke ’n reeks artikels oor Suid-Afrikaners se ervaring in Amerika en oor dié wat in die land wil bly, gepubliseer. Die artikel is die laaste in die reeks.

Lees vorige berigte hier:

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button