‘Kokkedoor’-deelnemer onthul wat gebeur het ná verdwyning
Mariana Kotze vertel in 'n eksklusiewe onderhoud wat werklik met haar gebeur het na haar verdwyning die land aangegryp het.
Die Kokkedoor-deelnemer, Mariana Kotze (67), het gisteraand veilig in haar bed in Marlothpark geslaap na ’n hel wat Maandag begin het.
In ’n openhartige onderhoud met Laevelder vanoggend (5 Februarie), het Mariana vertel hoe die ontvoering, wat die land aan die praat gehad het, begin en geëindig het.
Aanloop tot die week se gebeure
Laevelder berig dat in die aanloop tot dié week se gebeure, het sy oorsprong toe Mariana in Junie 2025 in die kuberwêreld in ’n web vasgevang is. Dit het onskuldig met boodskappe op Facebook Messenger begin.
Dinge het vining geëskaleer en kort hierna is sy gereeld tussen Junie en Desember 2025 afgepers vir geld. Sy het selfs sover gegaan om by vriende geld te leen. Die kubermisdadigers het gedreig dat hul haar man sou leed aandoen as sy nie aan hul eise voldoen nie.
In Desember het haar man, Boland, hiervan uitgevind en was bitter kwaad.
Mariana het onderneem om alles te staak en is van Facebook en sosiale media af. Die misdadigers het egter steeds haar telefoonnommer gehad.
Sy het weer in die tyd met die misdadigers gekommunikeer.
Sondagaand, 1 Februarie, om 21:00 het Mariana ’n one-time video (dit kan slegs een keer gekyk word en verdwyn dan) op WhatsApp ontvang.
Daar is aan haar opdrag gegee om haar tasse te pak en Maandagoggend Komatipoort toe te ry.
Sy was van plan om bestanddele by Shoprite Checkers te koop en het eers die winkel binnegegaan om haar inkopies te doen.
Die ontvoering
Op pad terug Marlothpark toe, is sy deur ’n voertuig van die pad gedwing. Mariana vertel: “Daar het twee mans saam met my in die kar gespring, ’n wapen teen my kop gehou en gesê sy moet Malalane toe ry. Hulle het gesê ek moenie in die spieël kyk nie en my oë op die pad hou.”
In Malalane aangekom is die stemnota gemaak en aan haar man gestuur. Met die wapen teen haar kop het hulle die dreigement om haar dood te maak in die boodskap aan Boland opgeneem. Sy het gesmeek dat hulle haar lewe moet spaar. “Die mans wou hê dat ek geld trek en ek het gesê ek het nie geld nie. Daarna het hulle beweer dat hul weet van ’n belegging wat ons het.”
Hulle het aan haar ’n tweede foon oorhandig en opdrag gegee om Mbombela toe te ry, by LimeTime ’n kaartjie te koop en na OR Tambo Internasionale Lughawe te gaan. Vreesbevange dat hulle Boland sou doodmaak of haar kinders sou beseer, het sy dit gedoen en soos kringtelevisiemateriaal bevestig, met die bussie gery.
Mariana sê dat sy aangesê is om ’n Uber na Classic Lodge in Kempton Park te neem. Laevelder het die lodge genader vir kommentaar. Hulle het bevestig dat Mariana daar oornag het, en dat sy alleen daar aangekom het. Hulle wou egter nie verder uitbrei nie.

“Ek was vreesbevange, en het baie onveilig gevoel. Ek is na ’n kamer geneem en ek het nie my neus by die deur uitgesit nie.”
Intussen het Boland Maandag reeds die polisie in kennis gestel van sy vrou se verdwyning. Hy het met lede van die polisie se intelligensie-eenheid gepraat.
Woensdag het Mariana die moed bymekaar geskraap en het haar kinders in Kanada gebel. Hulle het haar gevra om kalm te bly. Hierna het die ratte begin werk.
Mariana word veilig gevind
Boland sê Willem Enslin en Jacques Kotzé was by hom toe hy die boodskap van sy skoonseun ontvang oor waar Mariana was en dat sy haarself in ‘gevaarlike omstandighede’ bevind het. Na kommunikasie tussen almal het dinge vining gebeur.
Enslin en Kotzé het dadelik die taakspan gekontak wat na die lodge toe is. Mariana sê ‘daar was ’n harde klop aan die deur en toe sien ek dit is mans met gewere. Ek het oopgemaak en hul het ingekom en gevra of ek alleen was.’ Dit was die Ekurhuleni Metropolisie se Noordelike taakspan, onder leiding van Morné Minny.
Volgens haar het hulle dadelik die ekstra foon se simkaart gebreek sodat daar geen kontak meer van die nommer kon wees nie. Hulle het haar na ’n plek van veiligheid geneem waar ’n vrou met die naam Heidi na haar omgesien het. Sy het ook die foon wat die mans aan haar oorhandig het in stukke gebreek en in die bosse gegooi.
Enslin en Kotzé het dadelik Kempton Park toe gejaag en sy is gistermiddag by ’n Astron-motorhawe opgelaai en teruggebring Marlothpark toe.

Die egpaar se regsverteenwoordiger, Jan Engelbrecht, het aan Laevelder gesê dat Mariana nie van die begin af eerlik was oor die afpersing nie.
“Hierdie is ’n sprekende voorbeeld van hoe kubermisdadigers onskuldige mense uitbuit en dat dit só ver kan gaan dat iemand ontvoer word. Hierdie voorval moet ook aan almal daarbuite bewys dat jy nie moet stilbly oor sulke voorvalle nie en so gou moontlik hulp moet kry. As die spesmagte nie so vinnig opgetree het nie, sou hierdie situasie dalk ’n baie slegte einde gehad het.”
Engelbrecht sê die kommentare en beriggewing dat Mariana haar man wou verlaat is van alle waarheid ontbloot en het ernstige emosionele skade veroorsaak. “Ons moet hulle nou die geleentheid gee om van die voorval te genees en eerder ondersteuning gee.”
’n Emosionele Mariana het haar dank teenoor almal uitgespreek wat hul in hierdie tyd bygestaan het: “Ek wil almal wat vir ons omgegee het en na Boland gekyk het, sê ons is bitter dankbaar. Dit is wonderlik om te weet hoe mense omgee. Ek wil aan Boland dankie sê dat hy my met al my foute aanvaar. Ons is lief vir mekaar en ek aanbid die grond waarop hy loop. My kinders het ons net so ondersteun en ek is baie geseënd. Mag God almal seën sodat so iets nie op hul pad kom nie, en as dit doen, sal ek aan hulle ’n oor gee.”
Read original story on www.citizen.co.za