Kuberkrakers dreig Potchefstoom inwoners met inligiting uit polisie dossiere
Die Potchefstoom polisie sê hulle is bewus van die situasie en dat die teenkorrupsie-eenheid dit tans ondersoek.
Verskeie inwoners van Potchefstroom loop deur onder onder dreigemente wat vermoedlik van hul polisie dossiere af kom nadat die Potchefstroom-polisie se dossiere-afdeling deur kuberkrakers deurgedring is.
Die kuberkrakers is in besit van persoonlike inligting van mense wat onlangs sake by die polisie aanhangig gemaak het. Hulle word nou gebel en gedreig of afgepers.
‘Ondersoekbeampte’ se weergawe verskil van feite in dossier
Minda Oosthuizen (69) is een van die slagoffers wat al met hierdie kuberkrakers te doen gehad het.
Sy vertel daar is by hul plaas op Boskop ingebreek en omdat haar man in daardie stadium uitstedig was met stroopseisoen, moes sy als hanteer en die saak by die polisie oopmaak.
“Op 28 Junie het ‘n plaaswerker my ingelig dat daar ‘n rol koperdraad gesteel is. Ek het die polisie ontbied, wat vinnig opgedaag en ‘n verklaring geneem het. Die volgende dag het ‘n man, wat gebroke Engels praat, my gekontak en homself as die speurder wat met die saak werk voorgedoen,” vertel sy.
Minda vertel hy het haar op haar doopname genoem en alles van die saak geweet.
“Hy het gesê die polisie het die rol draad gekry en hy wou dit terugbring. Hy het ook gesê daar is drie verdagtes in hegtenis geneem. Ons was onseker oor die situasie omdat die draad van die rol afgesteel was en iets het nie reg geklink nie.”
Later daardie dag het die polisie se vingerafdrukkeafdeling vir Minda geskakel om te reël om vingerafdrukke te gaan neem.
Dit is toe wat hulle uitvind die rol draad is nie gekry nie en geen verdagtes is gearresteer nie. Gelukkig kon Minda die waarheid hoor voordat die kuberkrakers die geleentheid gehad het om hulle te dreig.
“Dit laat mens baie onveilig voel en dit skep vir mens baie probleme. Ek en my man is albei nie meer jonk nie. Dit is skrikwekkend om te dink dat iemand met al my inligting en adres sit.”
Nóg slagoffers kom na vore
Twee slagoffers wat verkies het om anoniem te bly, het ook vermoedlike voorvalle met kuberkrakers gehad.
Een klaer, wat ook onder diefstal deurgeloop het, is glo deur die kuberkrakers met haar persoonlike inligting gedreig nadat sy geweier het om te betaal om haar gesteelde goedere terug te koop.
’n Ander slagoffer het ‘n saak van diefstal by die polisie oopgemaak nadat iemand sy tablet deur sy voertuig se ruit gegryp het.
Kort daarna is hy deur die kuberkrakers gekontak wat hulself as speurders voorgedoen het.
Volgens die kuberkrakers is sy tablet glo opgespoor en die speurder wou dit vir hom terugbring. Kort voor lank is hy gevra om te betaal om die tablet terug te kry en toe hy weier, is hy met sy persoonlike inligting gedreig.
Kaptein Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, sê die polisie kan bevestig dat hulle ten volle bewus is van hierdie situasie en die ondersoek in hierdie verband is aan die teen-korrupsieeenheid oorhandig vir intensiewe ondersoek.
Read original story on www.citizen.co.za