Ons gaan jou vrekskiet: Plaasaanvallers dreig vrou (63) in Roossenekal

’n Onderwyseres is in die gesig geslaan en met die dood gedreig tydens ’n plaasaanval gistermiddag in die Roossenekal-omgewing.

’n Onderwyser van Laerskool Roossenekal in Limpopo is gistermiddag op hulle plaas aangeval, aanmekaar in die gesig geslaan en met wapens, waaronder ’n jaggeweer, gedreig.

Middelburg Observer berig dat een van die aanvallers in Afrikaans vir Wilma Maartens (63) gesê het: “Ons gaan jou vandag vrekskiet,” terwyl hy en sy makker haar aanmekaar deur die gesig geklap het.

Dié aanval volg net vier maande na die moord op Robert Stoltz op die plaas, Hartelus, ongeveer 20km weg. Die span van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) het gehelp met die ondersoek, waarna ’n verdagte, wat reeds ’n bekentenis afgelê het, vasgetrek is. Sakkie Lourens van BMO en sy span ondersteun die polisie met hulle ondersoek ná gister geval.

Volgens James Language, die voorsitter van die TLU se veiligheidsafdeling, asook voorsitter van Landelike Veiligheid: Oosstreek, is Maartens omstreeks 17:00 by hulle huis op die plaas Gelukspoort net buite Roossenekal (deel van Mapochsgronde) aangeval.

“Die erf is omhein met ‘n elektriese omheining, maar ons vermoed hulle het iewers oor ’n hek geklim.”

Maartens is na buite om hulle katte kos te gee. “Toe sy omdraai, het een om die hoek gekom en haar gegryp.”

Daar was twee aanvallers. Albei se gesigte was bedek, een met ’n balaklawa en die ander een met ’n stuk lap. Terwyl hulle met haar die huis in is, het hulle handskoene aangetrek. Een het ’n jaggeweer by hom gehad en die ander een ’n pistool.

Sy is by die huis ingesleep waar hulle aanmekaar in Afrikaans geskree het: “Waar is die geld?” en haar dan deur die gesig geklap het.

Hulle het haar ook gevra waar haar man is en gesê hulle gaan vir hom wag.

Tussendeur het hulle oorgeslaan na Engels en ’n ander taal. Maartens kon nie uitmaak of hulle in Zoeloe of Sepedi met mekaar gepraat het nie.

Nadat hulle ongeduldig ’n ruk vir haar man gewag het, het hulle haar vasgemaak en op ’n stoel in ’n kas laat sit, waarna hulle by die kamer uit is en die huis omgekeer het vir enige waardevolle artikels.

Maartens het ’n skêr in die kas gekry en haarself losgesny.

Kort daarna het sy gehoor dat haar man, Sakkie, by die erf inry en sonder om aan haar eie veiligheid te dink het sy na buite gehardloop om hom te waarsku dat sy aangeval is en dat hulle lewens in gevaar is. Op daardie tydstip was die boosdoeners gelukkig reeds weg.

Language meld dat ander boere en die polisie vinnig op die toneel was.

Die aanvallers het te voet gekom en gevlug, wat ’n aanduiding is dat hulle moontlik afgelaai is en ná die aanval weer opgelaai is. Hulle het weggekom met kontant, Maartens se selfoon en ’n skootrekenaar.

Middelburg Observer het navrae aan die woordvoerders van die SAPD in LImpopo gestuur, maar hulle het nie ten tye van publikasie daarop geantwoord nie.


 

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button