Talle gelok deur Vaaldam skouspel terwyl gemeenskappe stroom-af ontruim, sandsakke pak
Met die Vaaldam tans 120.96% vol en 10 sluise oop, reis baie na die damwal om die skouspel te sien terwyl inwoners stoom-af hulle staal teen stygende riviervlakke.
Nadat tien sluise gister by die Vaaldam oopgetrek is het die riviervlak onderkant die damwal drasties gestyg. Terwyl talle na die damwal gereis het om die skouspel te aanskou, moes verskeie gesinne stroom-af van die dam hul besittings uit hul huise ontruim en staan die gemeenskap in Parys reg met sandsakke vir die massas water wat op pad is.
Volgens Parys Gazette sal die status quo vandag by die Vaaldam gehandhaaf word met die huidige aantal sluise wat oop is.

Huidige stand van sake by die Vaaldam:
- Invloei is vanoggend gemeet teen 2 214.48 kubieke meter per sekonde.
- Die Vaaldam is tans 120.69% vol.
- Daar is is 4mm reën in die Vaaldam se opvangsgebied gemeet.
- Uitvloei by Bloemhofdam is om 10:00 verhoog word na 3 200 kubieke meter per sekonde.
300 mense sal moet ontruim in Vanderbijlpark
Volgens Vaalweekblad vloei die Vaalrivier in die Barrage-omgewing baie vinnig en is verskeie oorstromings van laagliggende wonings gerapporteer.
’n Beraamde 70 gesinne, wat 300 kinders en volwassenes insluit, sal na verwagting deur die hoër watervlak geraak word.
Helpende Hand in Vanderbijlpark asook ander rolspelers is reeds Donderdagaand begin na Vaaloewer en Sunset Paradise om vas te stel wat die situasie onder inwoners is.
Johann Viljoen, takvoorsitter in Vanderbijlpark, sê dat inwoners toe reeds begin het om hul besittings met voertuie van hul eiendomme af weg te ry.
Hy waarsku dat die situasie nou nog erger lyk vandat 10 sluise oop is.
“Ons wil nie paniek saai nie, maar mense moet voorbereid wees op vloede. Die water gaan beslis nog verder styg.”
Verskeie paaie reeds onder water

Vaalweekblad berig dat daar in die woonbuurt Drie Rivier in Vereniginig strate ook reeds onder water is. Die woonbuurt se naam is as gevolg van die feit dat die Vaal-, Klip- en Suikerbosriviere daar bymekaar vloei.
Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se rampbestuurspan het gemeenskappe gewaarsku dat die verskeie strate in Drie Riviere en Peacehaven gesluit mag wees weens stygende watervlakke.
Dit sluit in:
- Golfweg,
- Generaal Hertzogweg,
- Brandmullerrylaan en
- Waterkantstraat.
Sandsakke om waterskade te probeer keer

Volgens Parys Gazette het inwoners daar reeds vroeër die week begin om sandsakke vol te maak en aan inwoners te skenk waar eiendomme langs die Vaalrivier deur die stygende watervlak bedreig word.
Een van die betrokkenes, Vaugh (van onbekend) het aan net voor 13:00 aan Network News vertel dat die watervlak steeds styg. Hulle het reeds 400 sandsakke gereëd en het beplan om binnekort van die sakke naby die Parys gholfbaan te gaan pak in ‘n poging om oorstromings na die dorp te keer.
Talle reis na damwal om skouspel van oop sluise te aanskou

Peet Schabbort van Deneysville het foto’s geneem van besoekers wat na die dam gereis het om die 10 oop sluise, wat laas in 2023 gebeur het, te kom aanskou.
Schabbort het aan Vaalweekblad gesê dat besoekergetalle na verwagting sal toeneem oor die naweek.
Read original story on www.citizen.co.za