Avatar photo

By Cheryl Kahla

Content Strategist


Kuier daar weer ’n seekoei in die Klein Olifantsrivier?

Presies ’n jaar nadat die eerste seekoei in Middelburg gesien is, word vermoed dat daar dalk weer ’n seekoei in die Klein Olifantsrivier kuier.


Dit klink nie vergesog nie, aangesien ’n seekoei ’n maand en ’n half gelede tussen Stoffberg en Belfast net-net deur die Mpumalanga Toerisme- en Parke Agentskap se vingers geglip het.

’n Inwoner van Springbokstraat (Kanonkop), wat verkies om anoniem te bly, sê hy het laat verlede week op sy stoep gesit toe hy ’n seekoei hoor.

“Ek was al baie in die wildtuin en ken die geluid van seekoeie. Dit was helder oordag, omstreeks 13:00.”

Hy wou aanvanklik niks sê nie, omdat hy nêrens op Facebook of op ander sosiale media gesien het dat ander mense ook die geluide gehoor het nie.

“Dit kon nie ’n selfoon gewees het nie, want dit was te hard. Anders was dit dalk iemand wat van die rivier se kant af met sy klankstelsel die geluide gemaak het, maar hoekom sou iemand so iets doen?”

Drie seekoeie, ’n seekoeibul, -koei en kleintjie het verlede jaar nuus gemaak toe hulle heen en weer in die Klein Olifantsrivier beweeg het.
Verskeie mense het foto’s en videos van hulle geneem.

Later het hulle in eMalahlenli se rigting beweeg waar hulle heen en weer tussen plaasdamme gekuier het. Toe hulle weer terugkeer na mnr. Jumbo van der Merwe se plaas, is hulle gevang.

Die kleintjie is nooit weer gesien nie en die vermoede bestaan dat hy meegesleur is in die rivier toe die Middelburgdam se sluise oop was.

• Die twee groot seekoeie is na ’n wildsplaas geneem, sowat 300km vanaf Middelburg, waar hulle goed aangepas is en nie kan ontsnap nie.

• Mnr. Ertjies Röhm (Wildbestuur, MTPA) het gesê dat dat dit hoogs onwaarskynlik is dat daar weer ’n seekoei is in die Klein Olifants, maar dat dit nie onmoontlik kan wees nie.

Hy het genoem dat ’n seekoei, wat verdoof is tussen Stoffberg- en Belfast, sowat ’n maand en ’n half gelede weggekom het.

“Dit is dus nie onmoontlik dat hy in die Steelpoortrivier opgegaan het daardie kant toe nie.”

Mnr. Röhm het ook genoem dat hulle in die laaste 10 jaar sowat 500 seekoeie in Mpumalanga gevang en hervestig het.
“In 95% van die gevalle het hulle goed aangepas in die area waar hulle hervestig is.”

• Enige persoon wat ook moontlik die seekoei gesien of gehoor het, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 of 072 248 3855.