BlogsDie WoestynrotOpinion

As ń kouegatwêreld in jou wese kom lê, dan loop die koffie

Daar is ‘n koue in die lug wat met ‘n man se siel praat. Hier in Noord-Natal het ons mense wat lief is vir hierdie swaar somers, waar die son die waarheid uit jou uitbrand as hy jou alleen vang. Dan het ons mense wat eerder die winter wil hê. As dit koud is, kan jy …

Daar is ‘n koue in die lug wat met ‘n man se siel praat. 
Hier in Noord-Natal het ons mense wat lief is vir hierdie swaar somers, waar die son die waarheid uit jou uitbrand as hy jou alleen vang. Dan het ons mense wat eerder die winter wil hê. As dit koud is, kan jy altyd ‘n trui aantrek. In die somer kan man net tot op ‘n punt uittrek, of gaan swem, maar nou het ons nie almal swembaddens nie, nê…?
Kyk bietjie na die toergidse in Dundee. Het jy al een sonder ‘n hoed iewers gesien…?
Ja, ja, ek weet dat Mike Nel baie sonder ‘n hoed loop, maar hy is een van daai manne met ‘n kop vol hare. Oompie Evan het daai lawwe Skotse keppie van hom, en elkeen van die ander loop met een of ander hoofbedekking. In die twinterjare van die vorige eeu het geen man sonder ‘n hoed op straat verskyn nie. 
Of ‘n das nie. 
Ek sal die das vandag vergewe, want ek weier om een te dra as ek nie hoef nie, maar man moet ‘n hoed hê. Die Bowman het ‘n hoed, maar hy vergeet dit in die kantoor. Of in die kar. Jy moet sien hoe dra hy sy baadjies kantoor toe dat daar later ‘n jacket oor elke stoel, en aan elke hak, hang.
Terug na die koue. Iewers kan man ‘n beanie ook inwerk.
Of ‘n bandana. Bandana… dis nie ‘n blerrie kopdoek nie! Enigiets wat man se bone dome so effe beskerm teen daai koue asem van die Drakensbergwind as hy gaan sneeu optel daar by Winterton rond en dit hier aan jou siel kom afsmeer. 
Wagdienste… ek onthou oggende daar in Walvisbaai, waar jy met daai grootjas aan, met die webbing oor hom, moes wagstaan. Koud, broer. So ‘n nat koue wat onder jou hare loop opdam en dan onder jou blaaie insyfer. Die bullie kry so ‘n bibberlyfie aan haar soos sy vibreer van die koue, maar sy sal nie ingaan en voor die vuur gaan lê soos die worshond nie.
Of as jy destyds bo op die pantserstaal van daai ysterkarre in ons jeugjare staan, en dis so bleddie koud dat jy nie ordentlik kan praat nie, jou voete pyn van die koue wat deur die stewelsole slaan, en die manne blaas sulke dik walms rook uit as hulle asemhaal. Gedink dit raak nie koud daar bo in Afrika nie…? Dink weer. 
Ons staan een nag in die woestyn, iewers buite Walvisbaai, en koek om die luitenant, wat net met sy hemp aan staan, en die man kry koud. Daar sluip so ‘n skerp, bytende kougeit oor daai sandvlaktes as die son gaan sak, en voor jy weet waar jy is, vries jy stadigaan van jou voetsole af boontoe. 
Nagte langs die viswaters, daar bo, naby die Ugabmond, of die Winston se wrak, waar jy vroegaand al vuurmaak, want dis nie grappies nie. Behalwe natuurlik as die ooswind wakker word. Dan vlug jy… met jou hoed op…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button