“Spoke uit die verlede en eerbied aan legendes…”
Hier in Natal het ons ‘n vreemde groep mense. As sekere bepaalde herdenkingsdae, soos die Slag van Talana op Oktober 20, 1899 nader kom, dan begin hulle ‘n snaakse kyk in die oë kry. Dis nou die historiese herlewingsakteurs van groepe soos die Dundee Diehards en die Oranje-Vrijstaat Staatsartillerij, wat in periode-kostuums teen Talanaberg verskyn, …

Hier in Natal het ons ‘n vreemde groep mense. As sekere bepaalde herdenkingsdae, soos die Slag van Talana op Oktober 20, 1899 nader kom, dan begin hulle ‘n snaakse kyk in die oë kry.
Dis nou die historiese herlewingsakteurs van groepe soos die Dundee Diehards en die Oranje-Vrijstaat Staatsartillerij, wat in periode-kostuums teen Talanaberg verskyn, en die slag gaan uitbeeld.
Sluit daarby ons oes van plaaslike slagveldgidse in, en jy het ‘n resep vir aksie. Heelwat mense is van mening dat die Anglo-Boereoorlog ‘n stryd net tussen Boer en Brit was.
Niks kan verder van die waarheid verwyder wees as hierdie eenvoudige stelling nie.
Gaan delf tussen argieffoto’s, en jy sien swart- en witmans wat op fotos gestewel en gewapen staan. Talle agterryers, soos Ruiter, van Marthinus Theunis Steyn, een van die mees bekendstes, was net so deel van die gevegte soos hulle eertydse meesters. Na die val van Pretoria het hulle egter van die toneel verdwyn toe hulle huistoe gestuur is.
As jy nou elke Boer wat in die oorlog op kommando was, in ‘n ry hier voor kon laat staan, gaan jy Boere, Skotte, Amerikaners, Engelse, Duitsers, Hollanders, Bulgare, Russe, Pole, Grieke en veral Iere, kry. John Mcbride, een van die bekendste Ierse Boere, tree hier na vore. John Filimore Blake, die Amerikaner, het saam met hom gery.
Duitsers, soos jong Thilo von Trotha (wie op Spioenkop geveg het, en later in die ou Suidwes-Afrika oorlede is in ‘n insident in die Visriviervallei), von Brusewitz, die moeilike luitenant, die Franse kolonel, de Villebois-Mareuil, Graaf Leo Pokrowsky, die Poolse edelman wat by Utrecht gesneuwel het, die Engelssprekende Boere van die Johannesburgkommando, en wie kan oooit daardie heldhaftige bende Skandinawiërs by Magersfontein vergeet…?
Slagveldgidse kan om ‘n tafel gaan sit en hierdie verhaal skuimbekkend bespreek. Daar word nie verniet na ‘n versameling slagveldgidse as ‘n emosie van gidse verwys nie!
Wanneer die nimmereindigende lokmiddel van die verhale van heldhaftige krygers en vegters van verlede jaar jou eers pak, word dit soos ‘n siekte in jou bloed wat jy nooit weer uitkry nie, en dit kan oor geslagte oorgedra word.
Vra maar vir my…!
Van die koue pantserbeton van die Doodengang op die walle van die Ijzerrivier in België, die trappe van die Feldhernhalle in München tot die grillerige hekke van Büchenwald en Auschwitz, het dit in my kom nesmaak soos griepmedisyne. ‘n Dag lank se loop, hurk, sit, wonder en dink tussen die onbekende grafte van Spesiale Kamp No. 2 van die Sowjetregime in Oos-Duitsland het my laat besef dat enige volk wat sygeskiedenis ontken, nie op sy toekoms geregtig kan wees nie. Daarvoor is die stemme van die verlede net té dringend…
Die herlewing van historiese gevegte, soos bogenoemde, is ‘n prettige manier om ‘n minder prettige geskiedenis lewendig te hou.
Dit is ‘n ode aan die formidabele mense wat die storie van hierdie land geskryf het, en ons is dit aan hulle verskuldig om daardie verhaal lewend te hou. Al is dit net speel-speel. Hulle sal nie omgee nie.



