Die dag wat die laaste man terugkom anderkant Cuito…
Karwagte, daardie unieke, eie Suid-Afrikaanse verskynsel van selfbemagtiging, ons eie Wit Ekonomiese Emansipasie.

Daar is heelwat van ons nog oor, en ons is ‘n kopseer vir die nuwe politieke elite. Ons is die oorblywende toiings van die dienspliggenerasie, en jy kan ons in, en op baie plekke nog kry: van Moth-shellholes tot straathoeke waar ons karwagte geword het.
Karwagte, daardie unieke, eie Suid-Afrikaanse verskynsel van selfbemagtiging, ons eie Wit Ekonomiese Emansipasie.
Die van ons wat nie karre op pas nie, skryf boeke of maak films, of ons boer. Dit maak nie saak wat die aard van ons nuwe lynfunksie is nie, ons is nog steeds douvoordag op parade, wat wissel van selfkonflik, tot ‘n nuwe oorlewingsbesef wat van so ‘n omvangryke aard is dat dit ‘n hardkoppige, knorrige lot van ons gemaak het.
Buiten die van ons wat die politieke elite van die dag na hardloop en ons voormalige kamerade verfoei en verguis, doen heelwat van ons nogal verbasend goed met die kaarte wat ons gedeel word.
Ons hang nie op politieke nuusblaaie op die Internet rond, sodat ons kan kommentaar lewer op wat die AWB weer iewers kwansuis sou gedoen het, of waar Eugene de Kock nou weer sy gesig gewys het nie, nee.
Nee, ons gaan stil ons gang, ons veg ‘n verbete stryd om kos op die tafel te sit, en ons byt op ons tande as ons tienerdogters by die huis kom met geskiedenistake wat die struggle verheerlik.
Ons begin ingenieurswerkies iewers in ‘n gesamentlike industriële parkie of agterstraatjie, waar ons die huur kan bekostig, of ons raak kreatief in ons motorhuise.
Daar is baie van ons wat boer, wat weereens in ‘n nuwe tipe koverte oorlogvoering betrokke is.
Daar is ‘n stille kopskuif aan die gebeur, ‘n kopreis wat ons tot “anderkant Cuito” moet vat, om Louis Bothma aan te haal.
Dis ‘n soort van seremoniële skuif van die swart kantgordyntjie oor ons weermagskildjies, ons “flashes”, ons uniformstukke wat ons nog nie op die plaas of in die tuin stukkend gedra het nie, en opstaan en verby Cuito begin te ry.
Gaan oor die brug, gaan verder, of kom terug as jy moet, maar vat daardie gordyntjie, skuif hom toe, en gaan kyk vir jouself in die spieël.
Moenie jou voormalige kamerade verfoei nie, en moenie oor hulle skryf wat die nuwe meesters in die Uniegeboue wil hoor nie. Gaan maak ‘n span bymekaar, en begin jou ou slagvelde na ry.
Begin die reis.
Kry nuwe bestemmings. Doen daardie skuif. Gaan steek ‘n kruis in die grond van jou ou gedagtes, en beweeg aan. Daar is te veel op die spel. Hierdie is ons land ook. Hierdie is ook ons onontneembare reg tot burgerskap, wat ons in sweet op die krae van ons brown en cammo-hemde geskryf het.
Gaan neem dit op.
Gaan begin daardie boerdery, daardie engineering shoppie, daardie pub, daardie veiligheidsmaatskappy, wat ook al.
Net die dooies se name word op mure geskryf.
Skryf jou eie naam op jou nalatenskap vir die wat na jou gaan volg.
Dis nie net jou bloedverdiende reg nie, dis jou plig ook.



