BlogsDie WoestynrotOpinion

‘My grond is my grond, en jou grond is ook my grond…’

Ek is deur meer as een sosiale kryger op sosiale media aangeraai om terug te gaan huis toe

Dit sou naïef wees om die laaste paar dae se gewoel oor grondonteiening, en al die ander dinge wat in pas daarmee plaasgevind het, of steeds plaasvind, te ontken.

Ons het drama aan die kom, en die enigste vraag is net, wanneer…?
Ek het per geleentheid na verskeie boere en ander manne geluister wat insette by hierdie praatwinkels oor onteiening gaan lewer het. Ek wil sommer uit die staanspoor uit my hoed lig vir hierdie manne, want dit sou nie ‘n maklike taak gewees het nie, inteendeel.

Ek het uit die aard van die saak by meer as een geleentheid beland waar mense my insette oor die gronddebat gevra het. Nou, ek het geweier om by enige geleentheid wat deur die regering of die staat gefinansier of gereël was, op te tree, want dit sou ‘n futiele oefening gewees het.

Die populêre narratief is dat witmense grond gesteel het. Grond wat aan swartmense behoort het. Dis ‘n belangrike stelling, wat veral deur die EEF en etlike van sy kranksinnige randgehore gemaak word, maar is nie op feite baseer nie.
Die feit bly staan dat baie van ons voorvaders hierdie deel van Afrika binnegekom het, huis opgesit en begin boer het baie jare voor byvoorbeeld die Zoeloes as ‘n volk bestaan het. My ma se mense het in hierdie land met bees geboer ten minste ‘n 100 jaar voordat uShaka gebore was. Ou Baba Nguni, wat met sy mense uit Noord-Afrika begin padgee het, het reageer op politieke en ekonomiese druk van die grootste slawehandelaars wat die wêreld ooit gesien het.
As jy hier nie aan Arabiere dink nie, moet jy jou skoolgeld gaan terugvra.

In 1787, met die geboorte van uShaka kaSenzakakhona, die stigter van die Zoeloevolk en –ryk, het ons voorvaders die westekant van die kontinent al meer as ‘n eeu bewoon. Die landbouers, soldate en matrose, wat later as die volksvaders van die Afrikaners sou bekend staan, het nie noodwendig almal blanke vrouens gehad nie, want hier was net eenvoudig nie genoeg vroue gewees nie.
Die aanbrandsel van ‘n film oor Krotoa, oftwel Eva, een van die bekendste Khoi-vroue in ons geskiedenis, het ‘n groot kans gemis om die huidige jong generasie histories op te voed. Nog ‘n bloedoffer aan die groot god Polities-Korrek.
Ek is deur meer as een sosiale kryger op sosiale media aangeraai om terug te gaan huis toe. Ironies, eintlik, aangesien ek reeds by die huis is. My voorouers het nie as Afrikaners na die suidpunt van Afrika migreer nie. Nie naastenby nie. Hulle het hierheen gekom as Franse Hugenote, Hollanders, Duitsers, Engelse, Iere, Skotte, Oos-Europeërs en dies meer. Ons het oor die jare hier kom Afrikaners word, met een van die mees unieke moedertale in die wêreld.

Al gekyk hoeveel Khoi-woorde is daar nog in Afrikaans? Of Maleisiese woorde….?
Baie van ons Engelse broers en susters het met die 1820 Setlaars hierheen gekom, en is die skeppers van die wolindustrie in hierdie land. Hulle is al drie tot vier generasies sterk, en is ook by die huis. Ons is by die huis. Ons moet dit net weer in besit neem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button