
Ek wonder of alle dogters soos my halwe tiener is? Sy is so strong-willed dat die Incredible Hulk draaie om haar loop. Ek dink nie ons het dieselfde gene nie… Ek vermoed sy is dalk omgeruil in die hospitaal tydens geboorte. Maar aan die anderkant – die ander een het haar gevolg vanuit my maag, na die skaal, na die broeikas en uit by die teaterdeure tot in die babakamer. En daar het hy gestick… te hel met my wat pas oopgeslag is van die een heupbeen na die ander… ek moes maar alleen opsnork. Die halwe tiener is die ander een se oogappel en hy kyk altyd uit vir haar.
Die ander een is lief vir die tiener ook, maar ek en die tiener het weer ‘n anderste bond. Ek het ‘n tere plekkie vir hom al van sy geboorte af, want koppig soos hy steeds is, wou hy nie asemhaal nie – die dokters moes veg vir sy lewe. Vir twee weke het ek met my seer lyf elke dag van vroegdag tot laataand langs sy bedjie met die pype en masjiene in NICU gesit. En soos dit ‘n opregte Jersey melkkoei betaam – het ek melk verskaf wanneer nodig. Ek was so gekonfyt dat ek selfs die melkies deur die voedingsbuis vir hom gegee het. En vir 14 dae lank het hy net ‘n doek aangehad – niks kleertjies nie. Die oggend van Oukersdag het ek NICU ingestap en die tiener het ‘n babygrow aangehad! My hart het gebokspring! Op Kersoggend kry ons die oproep van die hospitaal – hy mag huistoe gaan, tesame met een elle lange lysie van moets en moenies. Maar dit was ok! Verstaan dus die bond tussen my en die tiener, en hoekom ek hom wil versmoor met ‘n kussing en met liefde gelyktydig. Ok, nie regtig met ‘n kussing nie, maar hy test my patience.
Die halwe tiener is drie ure na haar geboorte in my arms neergelê. Dit was ‘n ander tipe happiness. Die halwe tiener het sommer from the word go attitude gegooi – eiewys. Sy stuit vir niks of niemand. Sy sê haar sê en jy gaan dit hoor – deal with it. Maar dan weer – haar deernis vir haar medemens is verstommend. Die halwe tiener is selfversekerd en weet waarvan sy hou en waarvan nie. Ek vat haar winkel toe – vir bietjie funky en trendy klere, girly stuff, jy weet. Ag liewe seekoei-met-‘n-polkadot-rokkie-aan, dit ontaard in ‘n bloedbad wat die Slag van Bloedrivier na ‘n kinderparty laat lyk! Willens en wetend gaan daar koppe gestamp word vandag. Die donkerwolke lê dik tussen ons, maar ingee – aikôna! Sy staan haar staan en ek loop my loop. Dik die donder(weer) in. Ek kan nie met hierdie kind deal nie, ek gooi my arms in die lug en alle cute outfits op die grond en storm die winkel uit! Die ding is, die halwe tiener sien SLEGS die volgende raak: alle cute pantoffels, fluffy slaapklere, sweetpakbroeke en toppe. Dit.is.dit. Ek wip my straight van O-bloedgroep in AB in. Wil sy heeldag en aldag in slaapklere met pantoffels loop?! Want nie ‘n cute paar boots of ‘n funky denim trek haar aandag nie!
En vir my is hierdie baie frustrating! Ek love dit om te shop en om in-style te wees met meeste van die trends. Ek is nie ‘n trendsetter nie, maar ek wil glo dat ek ‘n goeie oog het. So, hierdie foltering van die halwe tiener se ‘don’t careness’ dryf my tot drank – baie blêrrie drank! Ek weet nie of ons ooit saam gaan kan shop nie, want my moermeter gaan nie hou met pantoffels, slaapklere en sweetpakke nie!
Maar dan sal die ander een my subtiel remind dat ek bietjie vir ouma moet gaan vra hoe ék was op daardie ouderdom… en dan moet ek skelmpies smile, want dis waar. Ek het slegs shorts en sweetpakbroeke gedra. Trends en funky klere was beslis nie in my verwysingsraamwerk daardie tyd nie. Die ander een het selfs verwys na ‘n sweetpakbroek wat ouma langer moes maak, en wat ek nog gedra het toe hy my ontmoet het. Maar dis eintlik geheimpies wat ek nie vir die wêreld wil vertel nie. En dan sug ek maar net, en waai die witvlaggie… daar is hoop vir die halwe tiener. Ek het afterall nie te vrot uitgedraai nie… it is what it is!

ALSO READ: Toiletpapier versus Super Mario!
Make sure you follow us on our social media platforms for regular updates






