Kubermisdaad: Dit ruk handuit
Naas diefstal van koper, aanranding veral wat verband hou met huishoudelike geweld, en inbrake, is aanlyn bedrog van die grootste misdaad waarmee die polisie daagliks te doene kry.
Aanlyn kopies is gerieflik, en jy kry dikwels ‘n goeie winskoop, maar op pas waar jy koop. Gedurende Augustus is tien sake van aanlyn bedrog by die polisie in Parys geraporteer. Vir September is reeds agt sake aangemeld. Dit gebeur al meer, en kubermisdadigers is meer uitgeslape as wat jy dink.
In meeste gevalle kan jy ook daarvan vergeet om weer jou geld terug te kry. Die telefoonnommer, epos adres, webtuiste of fisiese adres bestaan dikwels nie meer teen die tyd wanneer jy agterkom jy is ingedoen nie.
Goeie raad is om te kyk na die waarde van goed wat geadverteer word. As die waarde baie laer is as wat die markwaarde is moet jy weet, dit is geen ‘bargain’ – jy gaan ‘n kat in die sak koop.
As jy nie ‘n ding gesien het nie, moenie dit koop nie. As jy nie aan ‘n ding kan vat om seker te maak dis eg nie – moenie dit koop nie.
Koop niks aanlyn tensy dit op ‘n betroubare webtuiste is, of jy dubbel seker gemaak het jy kan die verkoper of koper vertrou.
Moenie vreemde nommers op jou selfoon antwoord nie, en moet allermins vir mense persoonlike inligting oor die foon gee.
Loop lig vir selfoondiensverskaffers wat jou kwansuis ‘n aanbieding wil gee om jou selfoonpakket aanlyn te verander of te verhoog.
Jy kan geen banktransaksie oor die foon doen, of eenmalige sekerheidspinnommer (OTP) oor die foon vir iemand gee nie. Nie eens as die operateur sê hul skakel van die bank en sien daar is ongemagtigde transaksies op jou rekening nie. Sit die foon neer, klim in jou kar en gaan self bank toe, want voor jy weet is jou selfoon of bankrekening gekaap en sit jy sonder ‘n pennie.
Loop lig vir buitelandse nommers en skakels wat per sms of WhatsApp na jou gestuur sou word. Moenie daarop klik nie. Dit is die sekerste manier om jou te vang met internet bedrog slenters.
Selfs die ID-fotos wat banke het van kliënte, het al gewys stem nie altyd ooreen met die identiteitsrekords by binnelandse sake nie. Moet daarom nie eens ‘n foto van ‘n ID kaart vertrou wat vir jou gestuur word nie.
As jy geskakel word en gevra word dat geld wat verkeerdelik in jou rekening inbetaal is, terugbetaal moet word, kom onmiddellilk by jou bank en rapporteer dit.
Swendelaars gebruik dikwels selfoonnommers sodat jy ‘n e-beursie (E-Wallet) betaling kan maak. Sodra jy betaal het, bestaan die nommer ook nie meer nie en kan die skurke nie vasgetrek word nie.
Onthou – geld wat jy vrywillig oorbetaal het aan iemand, of goed wat jy gegee het voordat die betaling in jou rekening reflekteer is jou verlies want jy het vrywillig en met jou medewete so reg in die skurke se hand gespeel.
So skakel jy Parys SAPD:
Parys SAPD se telefoonlyne is datalyne. Dit beteken dat waneer daar kragonderbrekings is, mag jy dalk sukkel om deur te kom na die polisie se gemeenskapdienssentrum. Al klink dit of die telefoon aan jou kant lui, lui die telefoonlyn in der waarheid dan nie in die gemeenskapdienssentrum nie, en skep dit dan by die pubiiek die persepsie dat daar nie antwoord is nie. Stoor daarom die
volgende nommer vir Parys SAPD wat te alle tye sal werk: 082 466 7416
;



