MotoringSport

Kilometer vir kilometer ’n wedloop van oorwinning en herinnering

Kilometer vir kilometer ’n wedloop van oorwinning en herinnering

 

Ten spyte van haar groot vrees vir hoogtes, het die 28-jarige Annemi Beukes van Parys, op 20 November die 25ste K-way Skyrun in die Wittebergreeks by Lady Grey voltooi.

‘n Emosionele 65km wat sy met deursettingsvermoë vir haar skoonpa, Etienne Beukes, gehardloop het. Etienne is in Maart vanjaar ná ‘n 14 maande lange stryd met kanker oorlede.

Annemi het die urelange bergwedloop kilometer vir kilometer vir hom gehardloop, “want ek het geweet as hy sy stryd voluit tot die einde kon stry ten spyte van die trauma, ek my vrese opsy kon sit.”

Dit was nie ‘n wedloop om tyd vir haar nie, maar ‘n wedloop van oorwinning en herinnering.  

 

Annemi saam met haar skoonpa, wyle Etienne Beukes. Die foto is met hul laaste Kersfees saam geneem. Hy is in Maart vanjaar oorlede. Annemi het die Skyrun ter herinnering aan hom gehardloop. Foto’s: Verskaf

Aanvanklik sou sy die 100km roete gehardloop het, maar nadat haar hardloopmaat wat ook ‘n ou skoolvriendin is, haar ligamente geskeur en onttrek het, het Annemi besluit om deur te druk en die 65km aan te pak. Vir die 100km word daar deur die nag gehardloop met ‘n 30 uur afsnytyd, terwyl die 65km roete deelnemers die oggend om 04:00 wegspring, en 20 ure tyd het tot 22:00 die aand om klaar te maak.

Annemi het haar uitdaging in 13 uur 44 minute voltooi. Sewe kilometer voor die eindpunt word daar reguit op teen die berg gehardloop en weer reguit af aan die ander kant.

‘n Roete waar jy self al jou toerusting dra en self moet navigeer.

Net jy uitgelewer aan die soms genadeloosheid van natuurelemente op ‘n gemiddelde hoogte van tussen 2 200 en 2 500 meter bo seevlak. Iets waarvoor jou kop en gedagtes honderd persent ingestel moet wees op dissipline, op uithou en aanhou, gefokus op die einddoel. ‘n Eerste vir Annemi, maar beslis nie die laaste nie, sê sy.

Sy vertel dat sy op skool landloop en tweekamp gedoen het maar nooit ernstig gehardloop het nie, en ook nie ultra afstande nie. Eers in 2018 het sy ernstig begin hardloop en in 2019 het sy haar eerste Twee Oseane en Comrades gehardloop.

Maar toe kom Covid. Op 25 September vanjaar het sy die K-way 4 Peaks in Rosendal gehardloop waar sy ‘n skitterende vyfde plek behaal het.

 

 

 

Annemi Beukes waar sy in September vanjaar die K-way 4 Peaks gehardloop het en algeheel vyfde geeïndig het. Foto: Verskaf

Een van die moeilikste bergwedlope in Suid-Afrika oor 24km teen ‘n ongelooflike helling Sy onthou soos gister hoe haar bene gebrand-pyn het na daardie eerste wedlope wat sy aangepak het, maar ophou was nooit ‘n opsie nie. Selfs deur inperking het sy bly oefen en het sy gemiddeld 80km per week gehardloop om voor te berei vir die Skyrun.

Annemi vertel dat sy ses dae per week oefen met gemiddeld 10 tot 15km per dag wat sy hardloop. In die week hardloop sy korter roetes in die dorp, naweke op die Vredefort-pad of Koedoeslaagte, met een van haar man Ryno, se werknemers, Benjamin wat getrou die begeleidingsvoertuig bestuur wanneer sy oefen, dikwels nog tot laat smiddae.

Sy wil weer die Comrades en die Twee Oseane aanpak, en al het sy eers laat in haar lewe haar tekkies aangetrek, is sy ‘n groot inspirasie vir haar gesin. Iemand wat nie skroom vir ‘n uitdaging nie – soos Etienne wat sy wedloop tot die einde voltooi het.  

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button