Local newsNews

Semi-Soet binnekort op die planke as splinternuwe musiekblyspel

“Wanneer jy die naam ‘Semi-Soet’ hoor, kry jy outomaties ’n glimlag op jou gesig,”

Dertien jaar sedert die romantiese komedie Semi-Soet in 2012 in rolprentteaters begin draai het, kan teaterliefhebbers nou gereed maak vir die Afrikaanse teatergeleentheid van die jaar wanneer Semi-Soet – die musiekblyspel in Mei op die planke kom in die AfriForum Teater.

Dié storie oor ’n selferkende werksverslaafde wat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk van ondergang wil red met ’n wilde, halsoorkop plan, trek vir die teaterproduksie ’n nuwe én musikale baadjie aan. Anel Alexander vertolk, soos in die gelyknamige lokettreffer, weer die vroulike hoofrol as Jaci van Jaarsveld en sal die Vryersvoetpad, te midde van skreeusnaakse oomblikke, aandurf saam met haar (nou nog geheime, maar immer gewilde) manlike hoofrolspeler.

Alexander wat 22 jaar gelede haar eerste verhoogstuk as professionele aktrise op die einste verhoog (toe nog die Performer-teater) opgevoer het, sien daarna uit om terug te keer en Semi-Soetdie musiekblyspel in die AfriForum Teater op te voer. “Ek kan nie wag om hierdie geliefde storie in ’n ander formaat met gehore te deel nie. Dit is alles wat aanhangers van Semi-Soet verwag en méér,” verduidelik Alexander.

Anel Alexander

Semi-Soet – die musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie en word in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied. Die draaiboek is gebaseer op die oorspronklike rolprent geskryf deur Sandra Vaughn en Anel en James Alexander, met splinternuwe musiek uit die pen van Johan Vorster en Jacomien de Wet. Jannes Erasmus gaan weer in die regisseurstoel sit. Dié gesoute driemanskap het al verskeie treffermusiekteaterproduksies, insluitende Die Gelofte en Die Kaplyn, die lig laat sien.

“Wanneer jy die naam ‘Semi-Soet’ hoor, kry jy outomaties ’n glimlag op jou gesig,” verduidelik Vorster. “AfriForum het dit weer eens moontlik gemaak dat ons ’n ou gunsteling, dié keer in samewerking met Anel Alexander, kon omskep in ’n musiekblyspel met ’n sterbelaaide rolverdeling. Dis ’n groot voorreg om saam met Anel te werk en om nuwe lewe te blaas in ’n produk wat haar so na aan die hart lê. Ons sien baie uit na die publiek se reaksie op Semi-Soet – die musiekblyspel.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button