
“Hy is soos ons kind, ek kan nie glo mense doen so iets nie,” sê me. Sophia van Graan oor haar kat Stoffel, wat met ’n windbuks geskiet is.
Volgens Van Graan het sy en haar man Johan ongeveer ’n jaar gelede vir Stoffel by die DBV aangeneem, juis om vir hom ’n veiliger tuiste te gee. Dit het haar daarom vreeslik ontstel toe iemand in die Grimbeekpark-omgewing, naby Watsoniastraat, haar geliefde Stoffel geskiet het.
“Al het die skoot nie soveel skade aangerig nie, moes hy ’n groot operasie ondergaan om die koeël te verwyder,” sê Van Graan.
Hulle moes ook groot kostes aangaan vir dié operasie, maar vir haar gaan dit nie oor die geld nie.
Dit gaan vir haar oor die ongevoelige manier waarop iemand haar “kind” geskiet het.
“Ons woon al 40 jaar hier en ek wil nie slegte buurmanskap hê nie, maar ek wens net die persoon wou liewer na my toe kom om dit te bespreek as Stoffel ’n probleem veroorsaak het,” sê Van Graan. Volgens haar het sy die voorval by die polisie aangemeld.
“Ek kan nie bewys wie dit gedoen het nie, maar ek het ’n vermoede,” het Van Graan gesê. Volgens die DBV is dit onwettig om met windbukse in ’n woongebied te skiet.



