Paws Haven se eerste verjaardag word met kleurvolle pret gevier
Om die dag 'n sukses te maak, doen Paws Haven 'n beroep op die gemeenskap om as borge, vrywilligers of skenkers betrokke te raak.
Paws Haven nooi die gemeenskap om deel te wees van hul eerste verjaarsdagvieringe wanneer die organisasie op Saterdag, 25 Julie hul eerste Birthday Color Run aanbied.
Alle fondse wat tydens die geleentheid ingesamel word, sal aangewend word vir die versorging van die diere by Paws Haven.
Om die dag ‘n sukses te maak, doen Paws Haven ‘n beroep op die gemeenskap om as borge, vrywilligers of skenkers betrokke te raak.
Die organisasie gaan hul eie kosstalletjies bedryf waar hul gewilde kaasworsrolle, pannekoek, verversings en ander lekkernye verkoop sal word. Skenkings van onder meer koeldrank, gebottelde water, broodjies, uie, eiers, souse, pannekoekbestanddele, koffie, tee, melk, suiker en tuisgebak sal baie waardeer word.

Besighede kry ook die geleentheid om waterpunte, kleurstasies of T-hemde vir personeel en vrywilligers te borg. Borge se besigheidslogo’s sal op die agterkant van die T-hemde verskyn.
Paws Haven is verder op soek na minstens 15 tot 20 vrywilligers om op die dag te help met onder meer kaartjieverkope, registrasie, kosstalletjies, die aanwys van deelnemers, op- en afbreekwerk, asook fotografie en videografie.
Fotograwe wat hul tyd wil skenk om die dag vas te vang, is ook welkom om betrokke te raak.
Vir dié wat graag saam met ‘n viervoetige vriend wil deelneem, sal daar ook geleentheid wees om met een van Paws Haven se honde te hardloop. Deelnemers word gevra om ná die wedloop die leiband wat hulle gebruik het aan die skuiling te skenk.

“Geen bydrae is te klein nie. Of dit nou ‘n sak suiker, ‘n paar bottels koeldrank, ‘n borgskap of ‘n paar uur van jou tyd is, elke bydrae help ons om voort te gaan om diere in nood te versorg,” sê Paws Haven.
Kaartjies is by Paws Haven se kantoor beskikbaar. Enigiemand wat ‘n borg wil word, skenkings wil maak of as vrywilliger wil help, kan Paws Haven kontak by 063 181 3524 of ‘n e-pos stuur na info@pawshaven.co.za.



