Entertainment

Skerpskerts: ‘n Vars aanslag tot spankomedie

Donderdagaand is Schalk Bezuidenhout weer te sien saam met Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer. Vrydag is hy saam met Simmi Areff en Donovan Goliath en Saterdag saam met The Flying Dutchmen, Dillan Oliphant en Joey Rasdien.

Tru-handé Kotze | Potchefstroom Herald

Om ‘n skerpskerts-komediant te wees, is baie taaier as wat mens dink. Jy moet jou gehoor ken en dan die inhoud wat jy voorberei het, daarvolgens kan aanpas. Dán moet die gehoor nog vir jou kan lag ook!  Schalk Bezuidenhout is een van Suid-Afrika se mees belowende skerpskert-komediante, wat dit regkry om sonder voorbereiding op die verhoog te spring, uit die heup uit humor te skiet en die gehoor terug te laat kom vir nog.

Weens ‘n behoefte aan skerpskertsteater het die Skerpskerts Comedy Festival by Aardklop ontstaan, waar Schalk as hoofkomediant en aanbieder genader is. Die naam van die produksie, Skerpskerts is die Afrikaanse woord vir stand-up comedy. Hierdie produksie lewer elke aand ‘n nuwe groep komediante op, om die gehoor te vermaak. Van hierdie komediante sluit onder andere Joey Rasdien, Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer in.

Schalk Bezuidenhout. Foto: Marianke Saayman
Schalk Bezuidenhout. Foto: Marianke Saayman

Dit is belangrik om attent te wees op die ouderdomsbeperking van hierdie vertonings, omdat die humor baie gewaagd is. Woensdagaand se komediante het ongelukkig die ouderdom van die gehoor oorskat, aangesien daar deurlopend van kru-taal gebruik gemaak is en dat daar na die einde toe meer volwasse grappies opgeduik het. Schalk het as seremoniemeester gedien en was eerste aan die woord. Sy skerpsinnigheid het die gehoor laat skaterlag en sy interaktiwiteit het almal vasgenael gehad.

Mojak Lehoko. Foto: Marianke Saayman
Mojak Lehoko. Foto: Marianke Saayman

Die tweede komediant, Mojak Lehoko het goed begin en die lagspiere behoorlik gekielie met sy unieke humorsin. Later het hy wel meer van die gehoor af gevoed vir inhoud, wat veroorsaak het dat die vatbaarheid van sy grappies stagnant geraak het. Joe Parker, die laaste komediant vir die aand het van baie herwinde grappies gebruik wat meeste mense in die gehoor reeds gehoor het. Dit het veroorsaak dat die produksie bietjie trefkrag verloor. Schalk het toe vir ‘n laaste energieke paar grappies ter afsluiting van die aand gesorg.

Joe Parker. Foto: Marianke Saayman
Joe Parker. Foto: Marianke Saayman

Die vertonings is tot dusver ‘n groot sukses, maar as jy sensitief vir kru-taal is, is hierdie nie vir jou bedoel nie. Elke vertoning lewer egter ‘n unieke ervaring op, omdat daar elke aand ‘n nuwe groep komediante optree. Vir die eerste vertoning is daar reeds 100 kaartjies verkoop. Maak seker om joune nou by Computicket te bespreek. Kaartjies is R100 (R60 vir studente), elke aand 21:00 by The Roots.

Donderdagaand is Schalk Bezuidenhout weer te sien saam met Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer. Vrydag is hy saam met Simmi Areff en Donovan Goliath en Saterdag saam met The Flying Dutchmen, Dillan Oliphant en Joey Rasdien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button