Straatligkinders skep nuwe soniese ervaringe met Verdwyn
Vir die eerste keer in ses jaar het die bekende Potchefstroomse Afrikaanse rockgroep, Straatligkinders, splinternuwe musiek om aan die massas bekend te stel met die nuwe album Verdwyn wat op Vrydag, 16 November vrygestel is. Potchefstroom Herald se Wouter Pienaar het met Straatligkinders se sanger en kitaarspeler, Bouwer Bosch oor die nuwe album gesels, hoe …

Vir die eerste keer in ses jaar het die bekende Potchefstroomse Afrikaanse rockgroep, Straatligkinders, splinternuwe musiek om aan die massas bekend te stel met die nuwe album Verdwyn wat op Vrydag, 16 November vrygestel is.
Potchefstroom Herald se Wouter Pienaar het met Straatligkinders se sanger en kitaarspeler, Bouwer Bosch oor die nuwe album gesels, hoe hulle in die huidige musieklandskap pas, die proses agter die skryf van die album en nog meer.
- Hoe het die kreatiewe proses vir die nuwe album verloop? Hierdie was ook die eerste album wat julle vrystel in ses jaar, wat is die rede dat julle weer as Straatligkinders wil musiek skep? Wou julle steeds die tradisionele Straatligkinders klank behou of iets heeltemal nuut skep?
Dit het natuurlik gebeur dat ons weer wou musiek maak. Die hoofrede hoekom ons ‘n breek gevat ses jaar terug was omdat ons almal elkeen ons eie kreatiewe projekte wou aanpak. Ons het ‘n ongelooflike goeie loopbaan gehad en ons wou ander tipe goed ook nastreef. Ek het gevoel dit sal weer lekker wees om musiek as Straatligkinders te maak. Ek het ‘n baie basiese studio by die huis waar ons eers die liedjies opgeneem het. Ons wou onsself omring met skrywers en musikante wat beter as ons is om die musiek te dien. Ons wou net die beste musiek moontlik maak sonder dat ons ego’s in die pad kom.
Ons wou net goeie songs skryf. Daar is ‘n paar rock en pop songs sowel as ‘n baie hartseer ballad. Deesdae gaan dit nie oor genres nie, maar dit gaan oor die liedjie en wat dit beteken.
- Hierdie album na aanleiding van die eerste enkelsnit “Wonder” gaan ‘n effens anders meer moderne klank vir Straatligkinders hê? Hoe pas Straatligkinders in die huidige SA musieklandskap?
Mens is altyd oop en verwelkom altyd goeie liedjies. ‘n Goeie liedjie sal altyd mense se harte wen. Die uitdaging vir ons is dat ons harde rock genre nie meer populêr is nie. Hopelik is die liedjies goed genoeg en mense vind aanklank dat ons ‘n plek sal hê saam met ander kunstenaars in die musikale spektrum ongeag van die genre.
- Ek lees ook in ‘n persverklaring dat “tyd” een van die groot temas van hierdie album is. Wat het julle probeer doen in ‘n musikale aspek om dit uit te beeld?
Enige kunstenaar se beste album is altyd jou eerste album omdat jy hom jou hele lewe lank skryf. Toe ons jare terug as Straatligkinders begin het was ek arrogant omdat ons jonk was en dink dat ons beter as ander plaaslike kunstenaars was. Ons het baie gegroei in die afgelope ses jaar en ek sou se die stories en ervaringe van die tydperk word in hierdie album vasgevang.
- Hoe was die skryfproses vir Verdwyn. Het die band algeheel saam geskryf aan die liedjies?
Die skryfproses het by my begin, waar ek aan songs werk en dan aanstuur vir die res van die band om dan daarna te kyk. Die ander ouens se omstandighede is baie anders en ons is almal op verskillende plekke. Die proses vroeër was gewoonlik dat elkeen iets na die tafel toe gebring het, so hierdie keer weens omstandighede het ek die eerste drafts begin. In die studio by my huis het ons toe almal bymekaar gekom en verder aan die liedjies gewerk en die hoofskryfproses daar uitgevoer.
- Wat is die grootste lesse en nuwe ervaringe wat julle met die opneem van Verdwyn ervaar het?
Hoe ouer ons geraak het hoe meer het ons besef dat dit ‘n groot voorreg is om in die musiekbedryf te wees. Jy moet verantwoordelik wees met dit. Dit gaan nie oor om jouself uit te verkoop nie maar eerder in te koop by die musiekreëls van ons tyd. Ons het ander musikante en skrywers soos Almero in gekry om ons te help ook. Hy is volgens my een van die top liedjieskrywers in die land.
- Ek hou ook baie van die 1970’s era musiekvideo vir “Wonder.” Is daar ‘n spesifieke rede waarom julle hierdie tema ook vir die albumomslag gekies het?
My gunsteling muso van alle tye is Buddy Holly. Toe ek na daardie tydperk gekyk het, het ek interessant genoeg besef dat almal in die 60’s en 70’s ouer gelyk het as wat hulle was. In my kop het ek gewonder hoe Straatligkinders sou lyk in die 60’s? Dit was die aanslag vir die foto’s en die albumomslag sowel as die musiekvideo vir “Wonder”. By ons eerste vertoning by Platteland in Pretoria hierdie Saterdag (24 November) gaan ons ook met die pakke aan speel vir ‘n paar liedjies.
- Met Verdwyn het julle ook met 7 vervaardigers gewerk. Wat was die hoofredes hiervoor?
Die hoofreël in musiek vir my as dat jy jouself moet omring met mense beter as jy. ‘n Goeie vervaardiger is baie belangrik om jou idee verder te vat en omdat ons rock songs geskryf het, het ons vir Stefan Swart gekry omdat hy ‘n rock-aanslag het. Ons het ook vir Ewald Jansen van Rensburg, Carlo de Villiers, en Rudolph Willemse gevra om die meer pop-liedjies te vervaardig. Peach van Pletzen het “Verdwyn” vervaardig en hy maak dit toe hierdie super hartseer liedjie wat my gunsteling een op die album is. Ons het ook Johann Oelofsen ingekry om “Ek Wil Jou Nooit Weer Sien” te vervaardig.
- Watter liedjies op die album is julle die trotste op? Watter liedjie was die moeilikste om te skryf en op te neem en die redes daarvoor?
Daar was nie regtig ‘n liedjie wat vir ons noodwendig moeilik was om te skryf of op te neem nie. “Verdwyn” is wel ‘n baie hartseer song en iets wat ons as Straatligkinders nog nooit gehad het nie. Dit staan vir my uit in ‘n mate. “Verkyker” is ook vir my ‘n cool song omdat dit oor die dood handel en om te onderhandel oor die datum wanneer jy doodgaan, is nogal iets wat vir my cool is.
- Daar is ook twee gaskunstenaars op die album naamlik Hemelbesem en Lucinda Neethling. Was dit ‘n vooropgaande besluit om ander kunstenaars deel van die album te maak.
Jy wil interessant iets nuuts na die tafel toe bring, veral wanneer jy lank terug as ‘n band musiek gemaak het. Ek is ‘n massiewe Lucinda Neethling fan al van die dae van Die Melktert Kommissie af. Nostalgie is altyd ‘n fantastiese dign van musiek en ek dink Lucinda bring dit veral na die tafel toe. Hemelbesem is soos ‘n profeet en hy skryf van die ongelooflikste goed. Ek ken vir Simon Witbooi (Hemelbesem) al lank maar ons kon nog nie saamwerk aan musiek nie. Ek dink Afrikaans gaan groei as dit gedeel word met ander kulture en dialekte. Dit gee ‘n goeie kans vir altwee kunstenaars se ondersteuners om te hoor hoe verskillende style van Afrikaanse musiek klink.
- Wat is julle verwagtinge vir Verdwyn? Kan Potchefstromers binnekort ‘n show sien?
Ons bestuur ons verwagtinge vir hierdie album. As een persoon van die album hou is dit great en as tien miljoen van dit hou is dit ook great. Jy moet jouself keer op keer bewys. Vir die eerste show is ons baie opgewonde, maar ook gestres omdat ons so lank terug saam ‘n verhoog gedeel het. Ons wil graag volgende jaar ‘n show speel by Snowflake in Potch. Ons sal ook by JOOL 2019 speel.



