EntertainmentLifestyle

Hooikoors is nie vir sissies nie

In Januarie oorval hooikoors my gewoonlik soos 'n trigonometrie vraestel op hoërskool - vinnig, ongemaklik en vreeslik irriterend.

In Januarie oorval hooikoors my gewoonlik soos ‘n trigonometrie vraestel op hoërskool – vinnig, ongemaklik en vreeslik irriterend.

Ek weet dat ek nie die enigste persoon in Potchefstroom is wat die Desember/Januarie hooikoors-hindernis moet voltooi nie. Die beste advies wat ek maar elke jaar sal gee en ook kry is om genoeg water te drink, my neus gereeld te blaas, anti-histamien medisyne te gebruik en soveel as moontlik stuifmeel te vermy.

Interessant genoeg hou dit net so week – maar in die week van Hooikoors-histeria lyk dit of ek 100 hartseer tranetrekker rolprente in ‘n ry gekyk het. ‘n Kollega het my gevra of alles oukei is, aangesien ek heel tranerig gelyk het.

Dit hou nie net by die bloedbelope oë nie (ja, dalk lyk dit dan of ek ook bietjie papegaaislaai beetgekry het) maar ook die aanhoudende snuif-snuif wat die irritasie so effens verhoog. Take word dan baie stadigter afgehandel en ‘n wens om my neus dan op ‘n manier te verdoof en te verwyder word dan ook ‘n verregaande “opsie.”

Dan die niesbuie wat ‘n mens nou en dan tref en vir ‘n paar minute aanhou is ook glad nie pret nie. My gesondheid moet eintlik al verskriklik verbeter het, met die hoeveelheid kere wat ek “gesondheid” hoor in so niesbui. Ongelukkig is dit ‘n baie stadige beter word proses (maar die positiewe punt is dat dit verbeter)

Een probleem van Potchefstroom lê juis in die uitheemse plante en bome wat op die oog af mooi lyk maar ook ongemak en stuifmeel-allergieë veroorsaak. Dit sal nooit gebeur dat die plante verwyder sal word nie, so in ‘n mate gaan ek net my beste anti-hooikoorswapens moet uithaal. Op die ou einde verdwyn my allergieë soos mis voor die son, maar elke jaar bekruip dit my weer soos ‘n ongenooide gas en verwag dat ek hom dan moet huisves vir ‘n rukkie.

Te veel hooi(koors) op my vurk.

As die gewone anti-hooikoorsmiddele nie werk nie, is daar ook ‘n paar Boererate (volgens Cedarberg.com) wat ‘n mens kan volg vir die wis en die onwis:

  • Drink twee eetlepels appelasyn met een derde glas water drie keer per dag. Dit verlig drukking op die sinusse en maak die neus gou oop.
  • Meng twee teelepels sout, twee teelepels koeksoda en een teelepel suiker in 500 ml louwarm water. Gooi dit in ’n leë neussproei-spuitbottel, spuit dit dan drie keer per dag in die neusholtes. Sout sal ontsmet terwyl die koeksoda die slym sal losmaak. Die suiker help dan weer om die slymvliese te herstel.
  • Gooi twee teelepels heuning by ’n halwe glas melk en roer dit totdat die heuning opgelos is. Dit sal help vir ’n hoofpyn.
  • Vir ’n toe of geblokte neus kan jy brouergispille gebruik.
  • Sny ’n ui baie fyn en sit dit in ’n plastiekbak wat goed kan seël, gooi drie eetlepels suiker oor en laat dit dan staan teen kamertemperatuur. Dit sal help vir ’n loopneus.
  • En dan laaste kan jy hierdie wonderlike kuur toepas, maar let wel, dit moet gereeld gebruik word. Dit werk onder meer vir hooikoors, sinus asook allergie. Meng twee eetlepels borrie, twee eetlepels gemmer en twee eetlepels kaneel in ’n houer. Meng dan ’n kwart teelepel van die mengsel en ’n kwart teelepel heuning in ’n kwart koppie louwarm water. Meng goed en drink. Jy kan hierdie vier maal per dag drink vir die eerste week en dan afskaal na twee maal per dag, afhangende hoe erg die toestand is.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button