Wêreldklas saksofoonspelers dié naweek in Potchefstroom
Vier wêreldklas saksofoonspelers tree Sondag, 14 April in die NWU Konservatorium in Potchefstroom op.
Vier wêreldklas saksofoonspelers tree Sondag, 14 April in die NWU Konservatorium in Potchefstroom op.
Quatuor AVENA het in 2016 tot stand gekom na vier jong saksofoonspelers, afkomstig van verskillende wêrelddele (Italië, Japan, Frankryk en Suid-Afrika), mekaar in Strasbourg by die Haute Ecole des Arts du Rhin ontmoet het tydens hul musiekstudies.
Die program wat deur Quatuor AVENA aangebied word, is geïnspireer deur Cuidades. Hierdie suite bestaande uit ses stukke waarvan elke stuk deur verskillende wêreldstede geïnspireer is. Die komponis, Guillermo Lago, ʼn Nederlandse saksofoonspeler, het sy persoonlike ervaring in elk van die stede gebruik as fokuspunt tydens die komposisie van die stukke. Cuidades is ʼn suite met geweldige variëteit wat die gehoor saamneem op ʼn musikale reis. Gegewe die internasionale aard en samestelling van Quatuor AVENA is die lede van die kwartet baie geheg aan die betrokke werk aangesien dit hul kulturele verskille verteenwoordig. Na afloop van vele suksesvolle uitvoerings van die suite het AVENA besluit om beweging toe te voeg tot die uitvoering deur tussen die gehoor deur te beweeg wat ʼn baie spesiale effek toevoeg tot die reeds uitsonderlike musiek.
Nicolas Allard, Fabio Cesare, Sumika Tsujimoto en Adam Campbell stel hulself ten doel om repertorium te kies wat ryk is in variëteit. Hul repertoriumkeuse strek vanaf Barok transkripsies tot kontemporêre musiek. AVENA het die potensiaal van die saksofoonkwartet-formasie optimaal ontgin en word tans beskou as een van die mees belowende saksofoon ensembles in Europa.
Kaartjies teen R100/R70 is beskikbaar by die Konservatorium in Thabo Mbeki-weg (tel. 018-299-1692), PUK-Kunste in die Heimatgebou (F9) op die universiteitskampus (tel. 018-299-2844), Protea Boekwinkel op die Bult (tel. 018-297-1583), aanlyn by www.artema.co.za en www.facebook.com/NWU.Music, of 30 minute voor die konsert by die loket.




