So waaghalsig soos sy musiek
Met liedjies soos, Soek jy aandag, of soek jy my lyf? en Jou Lippe, kan sy lirieke as waghalsig beskryf word. Maar dit is nie ver van Smoke se eie persoonlikheid nie.
Waaghalsig. Dit is een manier om Danny Smoke te beskryf.
Die Herald het Donderdag voor sy vertoning by Impala met hom gaan gesels.
Met liedjies soos, Soek jy aandag, of soek jy my lyf? en Jou Lippe, kan sy lirieke as waghalsig beskryf word. Maar dit is nie ver van Smoke se eie persoonlikheid nie.
Hy het in standerd nege (graad 11) besluit om skool te verlaat om sy loopbaan as musikant te bevorder en voluit aan te pak. Na dertien jaar waar hy baie sukses as ‘n vryskutmusikant en musiekvervaardiger vir verskeie ander kunstenaars behaal het, het hy weer dieselfde durf gewys met die besluit om sy eie musiek te maak.
“As solo-kunstenaar is dit nou heeltemal anders. Jy het soveel ander dinge om oor te dink en te bekommer as jy voor wil staan. Boonop word al die sukses wat ek as kitaarspeler geniet, nou uitgevee. So hopelik werk dit vir my uit,” lag hy.
Danny, wat ‘n groot gedeelte van sy lewe in Springs en daarna in Pretoria deurgebring het, kom uit ‘n musikale familie.
“My pa was ’n kitaarspeler en my sussie, Rochelle, speel baskitaar vir my en ook vir verskeie ander kunstenaars. Ek het om en by op die ouderdom van 12 of 13 begin geld met musiek verdien. Daar het my loopbaan as musikant regtig begin,” verduidelik hy.
Nadat hy skool verlaat het, het hy ’n diploma as klankingenieur voltooi en kort daarna in ‘n musiekateljee begin werk.
“Dit is waar ek vir Jak de Priester ontmoet het. Hy het gevra of ek vir hom baskitaar wil speel. Ek kon so ‘n bietjie speel, maar het nie eers my eie baskitaar gehad nie. Ek het dadelik ja gesê,” lag hy.
Dit was die begin van ’n reis binne in die Afrikaanse musiekindustrie wat vir Danny baie deure oopgemaak het.
“Ek was baie gelukkig om saam met die grootste name in Afrikaanse musiek te kon optree. Ek het by al die feeste regoor die land gespeel, asook groot produksies soos Afrikaans is Groot, Innibos en vele meer. As vryskut musikant het ek onder meer saam met kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Dewald Wasserfall, Laurika Rauch, Stef Bos, Bok van Blerk, Elvis Blue en Jo Black opgetree.
“Dit het net soos die natuurlike volgende stap gevoel om my eie musiek te maak. Ek is ook gelukkig dat Johan Vorster en Christoph “Appel” Kotze wat ek as twee van die beste liedjieskrywers in die Afrikaanse musiekbedryf beskou, saam met my aan my debuutalbum geskryf het,” vertel diè pa van drie.
Danny Smoke het ’n lang pad gestap van vroeë skoolverlater tot waar hy vandag verhoë aan die brand sing. Wat dink hy van Potch?
“Dit is ’n lekker plek met ’n baie lekker gees. Almal is altyd reg om partytjie te hou,” lag hy.



