Almal hou van Kersfees. Tog word dié feestyd die meeste deur kinders waardeer.
Dink maar terug aan jou eie eerste Kersfeesherinneringe – jy kan nie wag dat jou ouers of familie die nagemaakte boom moet uithaal dat jy kan help versier nie. Vir grootmense mag ‘n kersboom onnodige moeite wees, maar toe jy ‘n tjokkertjie was en jy jou sin kon kry, sou die boom al in Oktober versier gewees het.
Hoewel alles aan ‘n Kersboom dalk vals en oordadig mag voorkom, is die kleurvolle liggies, balle, ornamente en sprankelende goud en silwer stringe vir ‘n kind die mooiste ding op aarde. Jy kan eenvoudig nie bedruk voel as jy verby ‘n Kersboom loop nie. Dit word assosieer met verrassings en jy gee nie om waar dit oral pryk nie – van winkelsentrums tot dokterspreekkamers.

Puriste trek hulle neus op vir die gebruik om geskenke uit te deel en is bekommerd dat die wêreldse, oppervlakkige viering van Kersfees die jeug so sal beïnvloed dat hul later nie weet waaroor die feestyd eintlik gaan nie. Hulle kan maar ontspan. Na al my wonderlike herinneringe met Kersbome en Kersvaders en presente is ek steeds ‘n Christen. Ek en my kinders weet dat die geboorte van Christus die grootste rede is om fees te vier, daarom laat ek hulle begaan.
Die suurtjies wat geïrriteerd is met groot Kersbome en Jingle Bells se klanke in winkelsentrums moet asseblief uit die winkels bly. Jou ge-moan spoil die opgewonde feesgety vir almal, maar veral vir kinders.
My raad aan hulle is om maar daardie boompie vir Kersfees te koop. Die boom hoef nie ingevoer te wees nie, want kinders steur hulle nog nie aan stylguru’s soos Nataniël of die stywelip Martha Stewart nie. Hulle stralende gesiggies sal opmaak vir al die moeite en hulle sal vorentoe altyd aan jou dink as hulle eendag hulle eie Kersbome aanskaf.



