Senior NWU student staan op vir geregtigheid
“Die feit dat hy opgestaan het vir Christenskap, wys net hoe sterk sy geloof is,” sê Ronald Peters, bestuurder van Afriforum Jeug.
Shaun Christie, ‘n senior student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, se skorsing is gedeeltelik opgehef.
Sy tydelike skorsing het gevolg nadat hy tydens ‘n Registrasie en Oriëntasie (R&O) sessie opgestaan het en dit ontwrig het deur sy opinie te lig teenoor LGBTQIA+ kwessies wat deel is van die program en verpligtend is om by te woon. Shaun sal toegelaat word om akademies voort te gaan op kampus, maar mag aan geen openbare geleenthede deelneem nie.
Die NWU het na die voorval ‘n persverklaring uitgereik wat gelui het dat Shaun ontwrigtend opgetree het en nie die regte van sy mede-studente gerespekteer het nie.
“Die NWU is trots daarop om ‘n diverse en inklusiewe instelling te wees wat konstruktiewe diskoers oor alle sake toelaat, ongeag ras, godsdiens, kultuur, geslag of seksuele oriëntasie. Ons veroordeel ten sterkste enige optrede waar hierdie fundamentele regte van assosiasie en uitdrukking geskend word.”
Shaun het AfriForum Jeug genader en die organisasie het dadelik tot Shaun se ondersteuning ingetree en hul regspan hanteer die saak. Volgens ‘n persverklaring van AfriForum het Christie openlik beswaar gemaak teenoor die kwessies wat bespreek is. “Shaun het na bewering kritiek gelewer en aangevoer dat studente nie veilig voel om oor Christenskap te praat nie, maar dat gesprekke oor genderkwessies wel toegelaat word,” lui die verklaring.
Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Jeug het dit duidelik gemaak dat dit glad nie Shaun of AfriForum se intensie is om anti-LGBTQIA+ op te tree nie, maar dat Shaun opgestaan het teen die bestuur van die universiteit. “Die LGBTQIA+-gemeenskap is die enigste gemeenskap wat deel mag wees van die R&O program, geen ander gemeenskap was deel daarvan nie,” merk Ronald op. Shaun sê in ‘n video wat op AfriForum se Facebookblad gevind kan word dat mense bang is om oor Christenskap te praat op kampus, maar word gedwing om na ander lewenswyses te luister.”
Ronald sê verder dat dit duidelik gemaak is aan eerstejaars en huiskomiteelede van koshuise dat indien hul sou opstaan en uitloop by so ‘n sessie, daar dissiplinêre stappe teen hul geneem sal word. “Die studente was ongemaklik en bang. Hul het Shaun gebel en om hulp gevra aangesien Shaun ook ‘n leier in die kerk is. Shaun swot LLB en het die risiko van sy besluit besef.”
“Die feit dat hy opgestaan het vir Christenskap, wys net hoe sterk sy geloof is.”
Ronald beklemtoon dat studente nie verhinder mag word om hul opinie uit te spreek indien hul nie saamstem met standpunte wat geneem word of aktiwiteite wat op kampus plaasvind nie. “Hierdie saak raak die kern van vryheid van uitdrukking, ’n grondwetlike reg wat in alle demokratiese samelewings beskerm moet word.”
“9000 studente het ‘n petisie geteken om Shaun te ondersteun,” sê Ronald.
“AfriForum staan agter Shaun omdat ons al gesien het hoe studente hul opinie lig en stilgemaak word deur ‘n magsbehepte bestuur. Dit is hoekom daar organisasies soos AfriForum is, om studente se stem terug te gee,” voeg Ronald by.
Die uitkoms van die saak is steeds onbekend. Die NWU het ‘n verklaring uitgereik waarin daar genoem word dat die saak steeds ondersoek word.



