Local news

Gimmie komponis deel van gesogte Juilliard-projek

Nico Smit vorm deel as finalis van die NowBeat Project wat jong komponiste die ervaring gee om ‘n stuk te skryf en met ander komponiste en kunstenaars deur die proses saam te werk.

Om musiek te komponeer wat aan die hoogste standaarde van die wêreldbekende Juilliard School of Music in New York voldoen, is nie sommer iets wat in enige tiener se broek sit nie.

Nico Smit (15) is ‘n talentvolle violis en pianis. Foto: Wouter Pienaar

Die Potch Gimmie, Nico Smit (15), ‘n begaafde jong musikant en komponis is wel nie enige tiener nie.

Van jongs af is Nico se vaardigheid as komponis, violis en pianis oogelopend en dit is net nog ‘n pluimpie dat hy nou tussen 16 komponiste van oral in die wêreld aan ‘n aanlynkomponeringsprogram deelneem. Die hoofdoel is dat sy stuk deur die musikante van die Juilliard School of Music lewendig opgevoer sal word.

Nico Smit is vanjaar deur die wêreldbekende Juilliard School of Music in New York gekies as een van die top 16-finaliste van die NowBeat Project. Sy komposisie sal deur Julliard studente opgeneem en aanlyn opgevoer word. Foto: Verskaf.

 

“Ek is hierdie jaar gekies om deel te vorm van die jong komponiste wat deur komposisiestudente van The Juilliard School, Columbia Universiteit, Mannes School of Music by The New School, Steinhardt by NYU , en die Jacobs Skool vir Musiek aan die Indiana Universiteit gementor word in die skryf van ‘n kort stuk vir twee instrumente. Die komposisie sal in Mei deur studente by Julliard opgevoer en opgeneem word,” noem Nico opgewonde.

Volgens hom is dit net ‘n groot voorreg dat sy stuk deur top studente van Juilliard opgevoer gaan word.

“Die spelers is baie ervare en ek kan die stuk aanpas sodat hulle hul vaardighede ten volle kan gebruik. As ‘n komponis, is dit nie algemeen om jou stukke opgevoer te hoor nie, veral nie deur Juilliard studente nie,” noem hy.

Vir die komposisie fokus Nico op die toonkleur en die karakter van die instrumente (Fluit en Klarinet) en hoe die twee met mekaar interaksies uitvoer.

“Klassieke aspekte soos atonaliteit en kontras speel ‘n belangrike rol in die skepping van hierdie stuk, met inspirasie van laat Romantiese tydperk en impressionistiese musiek,” verduidelik hy.

“Ek werk saam met my mentor (‘n komposisie student van New York University wat tans studeer in Prague) wat my deur die hele komposisie-proses gaan lei en terugvoer gaan gee. In die middel van die projek gaan ek kans kry om met die instrument spelers te gesels en terugvoer van hulle af te kry. Uiteindelik gaan my stuk opgetree/opgeneem word by die 2024 Cycle Virtual Showcase Concert (Mei 2024),” vertel Nico verder.

Nico, wat aan die einde van die kwartaal sy ABRSM Graad 7 Viool eksamen speel, en ook tans besig met Graad 7 Klavier is, noem dat sy groot klassieke inspirasies, Sergei Rachmaninoff en Maurice Ravel is.

Om saam met ‘n mentor te werk is ‘n groot geleentheid vir Nico om by ‘n ervare musikant te leer en sy eie styl en idees te skaaf.

“Die mentor gaan onder andere help die musiek meer volmaak en help as ek skrywersblok het. Alhoewel al die musiek deur my geskryf gaan word, gaan hy dit help verbeter en goeie kritiek gee.”

Related Articles

 
Back to top button