Local news

‘n Vars perspektief op Paasfees

Prof Henk Stoker verdeel Paasfees in twee: die Kruisiging en die Opstanding.

Volgens Prof Henk Stoker, verbonde aan die Teologiese Skool, is Paasnaweek vir Christene wêreldwyd ‘n hartseer tyd maar ook die mooiste tyd. Dit is ‘n tyd wanneer die fokus geplaas word op die grootste geskenk wat ons ontvang het: God het sy enigste Seun gegee sodat ons as mense nie vir ons sonde hoef te betaal nie.

Prof Stoker, met sy liefde vir navorsing, verduidelik dat die Paashaas en eiers, wat weens kommersiële doeleindes dikwels die aandag van Jesus aftrek tydens Paasfees, sy oorsprong in Europa het. “Die Paashaas en eiers is ‘n teken van vrugbaarheid in Europa en speel ‘n rol in hul natuur-godsdienste. Dit is lente-seisoen in Europa en dus verbeeld die haas en eiers die vrugbaarheid van die somer-seisoen wat voorlê. In Suid-Afrika is dit herfs, so die haas en eiers het niks met ons te doen nie.” Prof Stoker voeg by dat hy egter altyd sjokolade-eiers aanbeveel aangesien dit so lekker is.

“Paasfees kan in twee dele opgedeel word; die Kruisiging en die Opstanding,” Prof Stoker verduidelik dat daar positiwiteit in Paasfees te vinde is wanneer mens in ag neem dat dit die een gebeurtenis is wat die geskiedenis van die wêreld positief gedraai het.

Die Kruisiging

Prof Stoker plaas Jesus se tyd op aarde onder die Kruisiging. “Die Sondeval (Adam en Eva wat in die Tuin van Eden oortree het) het verbrokkeling in God se volmaakte skepping gebring, en Jesus bring radikale verandering met Sy koms na die aarde en Sy lewens-opoffering vir ons sonde.”

Jesus se tyd op aarde en die doel daarvan kan in sewe Kruiswoorde vasgevat word.

  1. Vergifnis. Jesus het nooit iets teen iemand gehou nie. Hy het selfs tot God gebid om mense wat Hom spot terwyl hy aan die kruis hang te vergewe.
  2. Jesus se optrede terwyl Hy aan die kruis hang het ‘n misdadiger tot geloof gebring. As Christene is dit belangrik om te besef dat jou optrede soms die enigste Bybel is wat iemand lees, dus moet jy optree op ‘n manier wat God se evangelie verkondig.
  3. Terwyl Jesus aan die kruis gehang het, het Hy vir Johannes instruksies gegee om Sy ma, Maria, te versorg. Jesus is besig om die wêreld virewig te verander, maar as oudste seun (in lyn met tradisie van daardie tyd) tref Hy voorsorg vir sy ma. Hierdie gebaar dui aan wat Christen-wees is.
  4. Jesus se woorde “My God, My God, waarom het U my verlaat?” dui op die geweldige pyn wat Jesus as mens deurgegaan het om vir ons sondes te sterf. Hierdie besef moet Christene aanspoor om radikaal anders as die wêreld te leef.
  5. Jesus se woorde “Ek is dors” dui aan dat Hy eg menslik was.
  6. Jesus se woorde “Dit is volbring” is uiters finaal en lê swaar op die gemoed. Dit bring egter ook verligting deur verlossing, wat juis die rede is waarom Jesus aarde toe gekom het.
  7. Jesus het die woorde, “Vader, in U hande gee Ek my gees” uitgespreek net voor Hy gesterf het.

Prof Stoker wys ‘n algemene misverstand rondom die frase “neergedaal na die hel” wat beskryf hoe Jesus neergedaal het na die hel (deur God verlaat is) om ons mense van ons sondes te verlos. “Jesus het nie doodgegaan en toe hel toe gegaan nie. Die manier hoe die Geloofsbelydenis geskryf is maak dit onduidelik. Jesus is deur God verlaat terwyl Hy aan die kruis was en het so boete gedoen vir ons sonde. Hy is na God toe nadat Hy gesterf het.”

Die Opstanding

In Johannes 2 noem Jesus dat Hy die tempel sal afbreek en in drie dae weer op sal bou. Hy het egter van Sy liggaam gepraat en het so Sy eie Opstanding voorspel. Hy is die Vrydag gekruisig en het die Sondag weer opgestaan. Prof Stoker merk op dat Jesus in Jerusalem, die dorp waar Hy gekruisig is, opgestaan het vanuit die dood en aan Maria, sy dissipels en ‘n skare mense verskyn het. “Almal het geweet daar was ‘n lyk in Sy graf wat nie meer daar was nie. Hy het aan al hierdie mense verskyn sodat daar geen twyfel kon wees dat Jesus werklik opgestaan het nie.”

Prof Stoker verduidelik dat Jesus se Opstanding ‘n baie groot rol gespeel het in die verspreiding van Christen-geloof.

“Bybelse en buite-Bybelse bronne wys daarop dat Jesus onder Pontius Pilatus gekruisig is, en dat nie ontken kan word dat die dissipels seker was dat Jesus werklik opgestaan het nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button