‘Baba bedelaars’ wek kommer by inwoners
“Hulle is besig met kindermishandeling” so sê Annatjie Verhoef, 'n bekommerde inwoner in Potchefstroom.
Annatjie Verhoef, ‘n inwoner van Potchefstroom, het haar kommer uitgespreek oor babas en klein kindertjies wat deur volwassenes gebruik word om te bedel, veral die vrouens by Mooimed Hospitaal wat met babas staan en bedel. “Ons is baie bekommerd oor veral dié vrouens met babas,” sê Annatjie. “Hulle is besig met kindermishandeling.” Cornelia Wessels, ‘n maatskaplike werker in Potchefstroom, het gesê dit is ‘n kriminele oortreding. “Die kind is nie net sorgbehoewend nie, maar word ook fisies mishandel. Vir agt ure per dag moet die kind in die son staan.” Cornelia voeg by dat Annatjie vir haar gesê het dat die kind laat val is toe sy op ‘n keer daar verbygery het. “Die probleem waarmee ons sit is dat die vrou ‘n Zimbabwiër is en ons sal hier met internasionale wetgewing moet werk,” merk Cornelia op. “Die kind word misbruik, want motoriste het simpatie vir die kind en gee daarom geld. Maar die arme kind trek geen voordeel daaruit nie.” Cornelia noem dat dit nie net in SuidAfrika gebeur nie, maar ‘n wêreldwye probleem is. “‘n Baba of ‘n kleuter het ‘n definitiewe invloed op mense se emosies en daarom is hulle bereid om geld te gee. Indien die vrou alleen daar staan gaan sy baie minder geld kry by motoriste, want dieselfde emosie word nie gewek by die motoriste nie,” merk Cornelia op.
Daar is selfs ‘n petisie begin deur Dima Visser, ook ‘n inwoner, om die gemeenskap te betrek om die probleem aan te spreek.
Dima hoop om genoeg handtekeninge te kry by die Potchefstroom-gemeenskap sodat hy die aandag van die Departement van Sosiale Ontwikkeling daarop kan vestig. “Dit breek my hart om elke dag verby daardie kruising te ry en te sien hoe daardie kind vir ure net passief op die vrou se rug slaap, of woelig probeer om daar uit te klim, of gevaarlik na aan die rand van die sypaadjie langs die besige pad sit en met klippe en stof speel,” sê Dima. “Ek voel elke kind verdien beslis beter as dit. Ons owerhede moet ondersoek instel om te bepaal hoe kan hulle vir hierdie kind ‘n beter hede en toekoms voorsien, ongeag van die familieomstandighede. “Ek glo dat dit glad nie goed is vir hierdie kind en ander kinders oor die algemeen om betrokke te raak by straatbedelary nie.” Dima noem dat hy self ‘n ouer is en dat hy elke dag sy beste probeer om te verseker dat sy kind goeie lewenskwaliteit het. “Ek glo dit is die regte houding wat elke goeie ouer in hul harte koester. Ek is nie oortuig dat om jou kinders by bedelary van kleintyd af te betrek sal hul lewens op die langtermyn beter maak nie. “Ek weet van ‘n klomp arm gesinne, enkel ma gesinne en ander families met probleme.” Dima noem dat hierdie gesinne egter opofferings maak om vir hul kinders goeie lewenskwaliteit te gee en om hul kinderlikheid te beskerm. “n Kinderoppasser of ‘n borg vir ‘n speelskooltjie is definitief iets wat hierdie baba se lewe myle beter kan maak,” sê Dima. “Mag ons regering spoedig intree sodat daar reëlings getref kan word vir so ‘n inisiatief, want om behoeftige kinders van ons land so te verwaarloos is onanvaarbaar. Ons kinders is ons hoop en toekoms vir ‘n beter Suid-Afrika en ook ‘n beter wêreld,” sluit Dima af.



