Onbeheerste blydskap vir Mooirivier se goue SA diskus-atleet
Ethan Fourie het by die onlangse SA Skole Atletiekkampioenskappe 'n goud in diskus en silwer in gewigstoot behaal. Saam met sy gesoute afrigter, Theuns Naude, maak hulle 'n gedugte span.
Trane van blydskap het uit Laerskool Mooirivier se ster-atleet, Ethan Fourie, se oë geloop toe hy besef dat hy so pas goud in die o.13 diskus by die SA Laerskole Atletiekkampioenskappe in Polokwane behaal het. Tesame met hierdie waterwerke was daar ook ‘n onbeheerste gevoel van pure blydskap vir Ethan wat geweet het dat hy op die hoogste vlak sy doelwit kon bereik.
By hierdie kampioenskappe behaal Ethan goud sowel as silwer in die gewigstoot. Die titel van SA kampioen is iets wat Ethan as o.11 in 2022 ook al reggekry het toe hy goud in die gewigstoot-item behaal het. Daar is wel iets spesiaal daarin om op o.13 vlak ook weer goud te kon behaal, veral omdat die kompetisie sterk was en hy met slegs 5 cm gewen het. Ethan se gooi van 48.70 meter was net ‘n kortkop voor Aaron Knoetze (48.65 meter) van die Westelike Provinsie.
“Aaron het nog een laaste gooi gehad en toe kon hy net 45 meter haal. Ek het nog een gooi gehad, so toe weet ek dat ek myself kan geniet met my laaste gooi. Dit was baie emosioneel, ek was ongelooflik bly,” vertel Ethan met ‘n groot glimlag.
Hierdie goue medalje beteken juis vir Ethan baie nadat spanning hom op die eerste dag in die gewigstoot-item effens gepootjie het. Hy het hier ‘n silwermedalje behaal met ‘n gooi van 14.22, maar hy voel dat hy ook goud kon behaal en sy doelwit gemis het.
“Dit was moeilik om te weet dat ek al voorheen 15 meter gegooi het en die goud kon behaal. Ek het wel besluit om alles met die diskus in te sit die volgende dag,” noem Ethan, wie se persoonlike beste afstand in gewigstoot 15.10 meter is.
Dit is nie verbasend om vir Ethan te sien presteer as ‘n mens sien watter bekende atletiekafrigter aan sy sy staan nie. Dit is niemand anders as Theuns Naudé (80) nie – die bekende Potchefstromer, voormalige Springbokatleet in verskeie sportkodes en gesoute atletiekafrigter.
Volgens Theuns, wat al vir vier jaar vir Ethan afrig, is Ethan ‘n besondere atleet en harde werker wat alles insit en ook baie gefokus is.
“Ons oefen die hele jaar lank en sit baie tyd in sy tegniek in. Waar ander net in die atletiekseisoen oefen, is Ethan gedurig besig met atletiek. As afrigter leer ‘n mens wat werk met ‘n spesifieke atleet. Ons het ‘n langtermynplan en sodra hy oud genoeg is gaan ons aan sy plofkrag werk,” vertel Theuns.
Ethan het vir Oom Theuns as graad 3-leerder in die Covid-19 tyd ontmoet toe sy pa, LT, voorgestel het dat hy homself op gewigstoot moet toespits.
Sedertdien vlieg die rekords op ‘n gereelde basis by verskeie byeenkomste. Dit is vir Ethan belangrik om goeie afstande te behaal, sodat hy homself teen ander kan meet. Om eerste plekke te behaal met ‘n swakker afstand is minder bevredigend as ‘n goeie afstand.
“Ek sal graag my afstande wil verbeter soos die tyd aangaan. Vir my gaan dit daaroor om gelukkig te wees met wat ek bereik en daardie doelwitte na te streef. In die toekoms op o.16 vlak wil ek 18 meter met gewigstoot haal en ook tussen 55-60 meter met die diskusgooi.”
Met die atletiekseisoen wat nou afsluit is Ethan binnekort met ‘n rugbybal in sy hande te sien – en soos gewoonlik sal prestasie hand en hand met hom gaan.
Nie net omdat hy ‘n veelsydige en talentvolle sportseun is nie, maar juis omdat hy dit 100 persent met ‘n glimlag op sy gesig aanpak.