Local news

Gimmie-leerder en model gekies vir Wêreldbeker in LA

“Dit voel nog nie werklik nie,” vertel Mékayla Grace Groenewald, 'n model, danser en Gr 9-leerder in Gimmies wat gekies is om Los Angeles toe te gaan.

Mékayla Grace Groenewald, ‘n pragtige jong meisie en gr. 9-leerder aan Potchefstroom Gimnasium, is besig om voor te berei vir ‘n dans- en modelgeleentheid in Los Angeles, VSA.
“Dit voel nog nie werklik nie,” vertel Mékayla, met sprankelende oë.
Mékayla het vroeër vanjaar aan die Noordwes kampioenskappe vir dans en modelwerk deelgeneem waar sy vir SACOPA, die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, gekwalifiseer het.
SACOPA se verskillende kompetisies het ‘n week lank geduur en Mékayla het verskeie goue en silwer medaljes, asook een bronsmedalje verower. Sy is aangewys as die beste junior model. Sy is ook by SACOPA uitgenooi om Los Angeles toe te gaan.
Die Los Angeles geleentheid wat as wêreldkampioenskappe vir dans en modelwerk bekend staan, vind van 24 Junie tot 10 Julie plaas.
Mékayla is baie opgewonde maar ook senuweeagtig aangesien dit haar eerste keer gaan wees. “Ons gaan ‘n Worlds Parade Walk doen waar jy die kultuur van jou land ten toon stel met jou drag,” vertel Mékayla.

Mékayla Grace Groenewald se baadjie is
vol toekennings wat sy tydens haar dans- en
modelwerk loopbaan ontvang het.
Foto: Cornelia Hitge.

“Die volgende oggend moet ek 6:00 opstaan en op ‘n bord gaan kyk waar hulle jou dansen modelwerk tye opgee. As jou modelwerk en dans op dieselfde tyd is, gaan jy eers jou modelwerk doen en dan dans.” Mékayla voeg by dat jy al jou danse en modelwerk op een dag doen. “Dit maak my sommer bang,” sê sy en lag.
Mékayla se ma, Marnell, vertel dat sy bietjie gespanne is oor hoeveel tyd vir hare, grimering en klere verandering gegee gaan word. “We’re gonna wing it,” lag Marnell.
Mékayla merk op dat alhoewel sy baie senuweeagtig is, voel sy reg daarvoor, aangesien sy baie hard werk. “Ek sal bly wees as ek nog kan werk aan my truuks om my dans nog beter te maak. Ek is redelik rustig oor my modelwerk. Die feit dat ek gekies is, is reeds ‘n groot prestasie.”
Mékayla plaas haar vertroue en geloof in God en glo dat alles sal gebeur soos dit moet. “As God een deur toemaak, is dit omdat Hy ‘n ander een gaan oopmaak. Hy het ‘n plan vir ons almal,” sê Mékayla en haar vaste geloof skyn deur haar glimlag.
Mékayla gaan 9 tot 11 Mei aan Miss Pre Teen South Africa deelneem, en sien baie uit daarna. “As ek die titel kry sal ek bly wees want dit sal my projek, Grace Angel, baie help.” Mékayla samel klere in wat sy dan vir kinderhuise skenk. “Ek sal meer mense kan help as my projek groter kan word, maar alles sal volgens God se plan gebeur.”
Mékayla het op vierjarige ouderdom begin dans en ernstig aan modelwerk begin deelneem toe sy sewe jaar oud was.
Sy is tans by Annequin Dansstudio en Modelskool.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button