Direkteur van Rugby streef na spelers wat waardes uitstraal
Hy besef dat hy 'n groot taak aanpak wat waarskynlik vele struikelblokke sal bied, maar sê hy is oortuig daarvan dat die geleenthede die struikelblokke sal uitoorlê.
Volgens Gimmies se nuwe direkteur van rugby gaan hy streef daarna dat Gimmies spelers op en van die veld af as ‘n gentleman gesien kan word en die waardes van ‘n ware Gimmie uitstraal.
Dit is een van die doelwitte wat Regardt Kleingeld het nadat hy onlangs as Gimmies se Direkteur van Rugby aangestel is. Kleingeld het sy Rugby loopbaan by die NWU se rugby instituut as speler begin. Dit nadat hy as agtseman vir die Limpopo Bulle se Cravenweek span uitgedraf het. “‘n Besering het ongelukkig my speelloopbaan kortgeknip, wat tot ‘n onverwagse dog lonende wending na afrigting gelei het. Onder die mentorskap van Jaco Pienaar by die rugbyinstituut het ek my passie vir die ontwikkeling van jong talent ontdek, ‘n verskuiwing wat die volgende fase van my lewe sou vorm,” verduidelik Kleingeld.
Hy het onderwys by die NWU studeer waar hy na sy studies by sy alma mater, Hoërskool Pietersburg begin het. Hy is op slegs 24-jarige ouderdom die geleentheid gegun om die skool se eerstespan af te rig.
“Daar het die gogga behoorlik gebyt en die fondasie vir my hoërskool rugby afrigting gelê. Ek was gelukkig genoeg om nuwe uitdagings aan te pak en kon by Hoërskool Ben Vorster in my afrigting floreer,” vertel hy oor sy loopbaan as afrigter.
Sy spanne by Ben Vorster het merkwaardige sukses behaal. In 2018 het hy die skool se o16A span na agtste in die land gelei. Hy is gekies as Limpopo se o19 en sewes afrigter. Dit is waarskynlik dié sukses wat die deur na Paul Roos Gimnasium vir hom oopgemaak het, waar hy vier jaar spandeer het.
“Daar het my span geskiedenis gemaak toe hulle twee agtereenvolgende seisoene onoorwonne gegaan het, en twee keer as die nommer een span in die land aangewys is,” vertel hy trots.
Kleingeld het nog verder sy kennis verbreed toe hy gekies is om in Junie vanjaar deel van ‘n groep te vorm wat o16 spelers vir SA Rugby talent help identifiseer. Hy is ook na die o16 Elite Pathway Development kamp genooi.
Nico Serfontein, Russel Winter, Frans Ludeke, Corne Uys, Jaco Pienaar, en Hein Wagner is van die afrigters aan wie Kleingeld krediet gee vir sy groei as rugby-breier.
“My visie vir Potchefstroom Gimnasium se rugby: om Gimmies en hul rugbyprogram so te ontwikkel en te bevorder om ten einde te verseker dat Potchefstroom Gimnasium as ‘n waardevolle en gerespekteerde teenstander gesien word, terwyl ons ‘n kultuur van nederigheid, uitnemendheid en grasie skep. Ek wil elke seun die geleentheid bied om optimaal volgens sy vermoë te presteer,” sê Kleingeld. Hy besef dat hy ‘n groot taak aanpak wat waarskynlik vele struikelblokke sal bied, maar sê hy is oortuig daarvan dat die geleenthede die struikelblokke sal uitoorlê. “Tesame met die ondersteuning en samewerking van Potchefstroom Gimnasium se merkwaardige personeel, insluitend. Mnr. Willie van der Merwe, Jacques Botes en elkeen wat ‘n kardinale rol gaan speel, is ek opreg dankbaar vir dié geleentheid om by hulle aan te sluit. Ek is kinderlik opgewonde om te sien wat die toekoms vir die Gimmie Gemeenskap inhou,” vertel Kleingeld oor sy aanstelling by Gimmies.
Hy sal ‘n tipe van vuurdoop ondergaan met Gimmies wat in ‘n moeilike poel in die NWU reeks geplaas is. Hulle sal moet hard baklei om onder andere vir Wesvalia en Die Anker te klop.



