Briefies en magnete om Jesusliefde te versprei
Het jy ook een van die magnete of boekmerkies gekry?
Op 22 Desember 2024 is die inwoners van Potchefstroom op ‘n anonieme Facebook-plasing genooi om vir hulself ‘n yskasmagneet te kom haal. Saam met die plasing was daar ‘n foto van waar yskasmagnete, elkeen met ‘n spesiale Kersfeeesboodskap op, teen ‘n heining in Ericastraat, Grimbeek Park vasgesit is.
‘n Tradisie om Jesusliefde oor Kerstyd te versprei, is in 2023 deur ‘n ma en dogter, wat anoniem wil bly, begin.
“Dit gaan oor Jesus en nie oor my of my ma nie,” het een van die dames aan Herald gesê.
Sy vertel sy en haar ma is albei mal oor blomme en pluk gereeld blomme wat hulle dan pars om dit tydloos te hou.
“Met ‘n hele boks blomme, het ons besef ons kan vir ten minste 280 mense in Potchefstroom ‘n handgeskrewe Bybelversie of ‘n briefie skryf. “
Die twee het toe begin om te skryf en elke een met sy eie blom versier. Dit is met plastiek oorgetrek en net voor Kersfees was dit teen ‘n boks buite teen die heining geplak. Die idee was om Jesus se liefde oral te versprei. Hulle het toe mense genooi om vir hulle ‘n boekmerk te kom kies.


Iemand het vir hulle ‘n briefie op die boks buite die heining geskryf en so het hulle besluit om ‘n tradisie daarvan te maak.

“Die jaar het ons besluit op yskasmagnete en 219 was teen die heining opgesit. Hul was elkeen op Canva ontwerp, gedruk en lamineer.”
Mense het in die kommentaar op die Facebook-plasing hulle dank uitgespreek en ook fotos van hulle magnete geplaas.




