Onderwys is nie net ‘n werk nie, maar ‘n roeping
Sy vertel die item in haar klas wat die meeste aftrek kry, is die ou tikmasjien.

Om ‘n onderwyser te wees is nie net ‘n werk nie, maar ‘n roeping. Dit is duidelik wanneer jy by juffrou Laurie-May Henrico se graad ses klaskamer by Laerskool President Pretorius instap.
Sy het haar klaskamer in ‘n tydskapsule verander. Die klaskamer is van hoek tot kant versier in iets wat soos ‘n museum lyk. Van portrette, muurpapier, foto’s, koerantartikels tot by ou boeke. Dit is regtig iets besonders om te sien en leerders kan daarna uitsien om vir die res van die jaar in hierdie mooi klas onderrig te ontvang.
Juffrou Laurie-May, wat eers vir ses maande by Laerskool President Pretorius afgelos het en Januarie ‘n permanente pos aanvaar het, sê hoe sy haar klas versier het, is haar styl en is net ‘n uitbreiding van haar huis.
“Ek voel waar mens werk, moet dit vir jou mooi en lekker wees en jy moet gemaklik in jou omgewing wees. So waarom dit nie mooi maak nie? Afrikaans is sulke ryk, mooi taal en ek wil dit op enige manier moontlik aan die kinders oordra. Ek wil vir die kinders ‘n leeromgewing skep waar hulle meer as net die ABC of gelamineerde taalstrukture sien. Ek wil ‘n leeromgewing skep uit objekte wat leer op verskillende wyses kan stimuleer. Die ou tikmasjiene stel die kinders bloot aan die eertydse tegnologie waarmee hulle nie vertroud is nie en hulle verwonder hulle daaroor. Elke portret vertel ‘n visuele storie wat, soos met elke objek in die klas, sorgvuldig gekies is en gekoppel kan word aan ‘n era in die ontwikkelling van my vak. Dit vertel stories en stimuleer kreatiewe storievertelling.”
Sy het tydskrifte vanaf 1963 tot op hede teen die mure vasgesit sodat die kinders kan sien hoe die taal oor die jare ontwikkel het.
“Dit is baie lekker om in die oggende my klas oop te sluit. Ek, my man en my seun het oor Desember baie hard gewerk om die klas te versier, maar dit is absoluut die moeite werd.”
Sy vertel die item in haar klas wat die meeste aftrek kry, is die ou tikmasjien.
“Meeste van die kinders het geen idee gehad wat dit is nie. Dit was so lekker om dit vir hulle te wys en te verduidelik hoe dit werk.”
Juffrou Laurie-May sê sy wil regtig ‘n verskil in kinders se lewe maak.
“As jy nie belê nie, gaan jy niks terugkry nie. Dit wat jy insit, is wat jy gaan terugkry. Dit sal altyd ‘n ongelooflike voorreg bly.”



klaskamer.