Jy kan beheer oor jou verslawing neem
Dj het twee jaar gelede sy werk bedank en Per Gratiam – By Grace begin.
Dirk-Jozua Pienaar (37) is die lewende getuienis dat daar altyd nog ‘n kans is om jou lewe om te draai, beheer van jou verslawing te neem en ‘n wonderlike toekoms vir jouself te kan bou.
Dj, soos almal hom ken, het Bcom risikobestuur en interne handel by NWU in Potchefstroom geswot. Hy vertel hy het ‘n normale kinderlewe gehad en sy verslawing aan dwelms het bloot net uit verkeerde keuses ontstaan.
“Ek was ‘n party-persoon. Ek het geen rede gehad om slegte besluite te neem nie. Ek het al die geleenthede in die wêreld gehad. Oorsee rugby gespeel. Goed gedoen op skool. Maar ek het die verkeerde keuses gemaak en alles het net van daar af suid gegaan.”
Dj vertel hy het ‘n slegte punt in sy lewe bereik na sy ma se dood en nadat hy deur ‘n egskeiding gegaan het. Dit het eers by drank en dagga begin en kort voor lank het hy harde dwelms begin gebruik. Hy het toe in die kloue van verslawing verval waar hy vir amper 10 jaar vasgevang was.
Hy het menige kere na verskeie rehabilitasie sentrums gegaan om hulp te kry, waarvan hy elke keer na die tyd weer in verslawing teruggeval het. Hy was vir ses jaar in ‘n volslae dwelmverslaafde.
As gevolg van sy dwelmmisbruik, het hy baie verkeerde dinge gedoen en baie mense seergemaak.
“Op 10 Oktober 2018 het ek net geweet dit is nou die einde. Na baie kriminele optrede en baie foute, het ek dinge eenvoudig te ver gevat. My ouers het nie meer geleef nie en enigiemand wat my geken het, wou niks meer met my te doen gehad het nie,” vertel hy.
Dj gaan voort om te sê hy het niemand meer gehad nie en het net die Here oorgehad om mee te praat.
“Dit maak mens nederig in ‘n manier wat mens nie vir iemand anders kan verduidelik nie. Dit is iets wat jy self moet ervaar.”
Dit het hom vier maande geneem om sy suster te oorreed om hom nog ‘n kans te gee. Sy het hom altyd ondersteun en self betaal sodat hy na ‘n rehabilitasiesentrum kon gaan. Sy wou hom later nie meer kanse gee nie.
“Ek moes erken dat dit alles is as gevolg van my eie keuses. Keuses wat ek gemaak het omdat ek hoop in die lewe verloor het. Ek het daardie escape gekry by dwelms. Ek was gevoelloos en ongelooflik selfsugtig. Ek het net eenvoudig oor niemand omgegee nie.”
Dj vertel hy het daardie dag besef iets sal moet verander en dit is hy.
“Ek het in daardie oomblik my lewe totaal vir die Here oorgegee en aan hom beloof ek sal doen wat ook al ek moet om mense se lewens te verander en die Woord te verkondig.”
Hy het by ‘n rehabilitasieprogram ingestap en nooit weer teruggekyk nie. Tot vandag toe het hy nog nooit weer aan dwelms of drank geraak nie. Hy is opnuut verloof aan ‘n wonderlike vrou en het ‘n pragtige tweeling.
Dj het twee jaar gelede sy werk bedank en Per Gratiam – By Grace begin. ‘n Praktyk wat fokus op verslawing intervensie, verslawing nie in ‘n rehabilitasiesentrum is nie), berading en lewensafrigting.
“Ek weet waarna om te kyk, omdat ek self daar was. Ek kan ‘n terugslag sien kom, nog voor die persoon dit self weet. Mense in hulle diep verslawing kan maklik hulle familie manipuleer, maar dit is moeilik om iemand te manipuleer wat al die truuks in die boek ken. Ek was ook daar, dit is hoekom ek mense kan help. Ek sal tot eer van die Here aanhou met my roeping.”
Sy suster, wat ‘n baie groot rol in sy herstelproses gespeel het, het ook ‘n baie groot stap geneem en ‘n toep, Youer – a better you begin wat mense help om rehabilitasiesentrums naby hulle te kan opspoor en vergelyk.
Die Youer-toep kan op Android fone by Play Store afgelaai word.
“Daar kan mense rehabilitasiesentrums kry. Jy kan op die toep sien wat elke sentrum aanbied en wat dit kos. Jy kan daar ook gesondheid en welstand advies kry. Dit is ‘n omvattende toep wat jou op die regte pad sal sit om ‘n beter mens te word,” verduidelik Dj.
Indien jy sukkel met verslawing of iemand ken wat in die kloue van verslawing vasgevang is, kan jy vir Dj by 066 270 5207 kontak of epos by djpienaar@pergratiam. co.za. Jy kan ook sy Facebookblad Per Gratiam Recovery & Wellness besoek om na meer mense se getuienis te luister.
Jy kan ook hier na Dj se getuienis luister:
https://www.facebook.com/share/v/18bm1C1hNJ/



