Kerrie en rys vir sportdrome
Hierdie jaar het reeds uitstekend begin met ‘n eerste plek op die podium by die Mooirivier Prestige Atletiek byeenkoms.
Lihann Kemp (11) is ‘n top atleet van Potchefstroom wat groot drome vir atletiek, landloop en rugby het. Hy verkoop kerrie en rys om geld in te samel om vanjaar al sy sportdrome waar te maak.
Hy neem al vir drie jaar aan landloop deel en het in 2022 10de in die land geplaas. In 2023 het hy eerste in sy ouderdomsgroep geplaas. Hy het ook verlede jaar sy Landloop titel verdedig en weer eerste in sy ouderdomsgroep by die Athletics Central North West se Landloop kampioenskap met 10 minute en 52 sekondes geëindig.
By SA’s het hy ‘n sesde plek in sy ouderdomsgroep behaal. Verlede jaar het Lihann begin met 1 200m. By sy eerste SA’s vir hierdie item, het hy ‘n 10de plek behaal.
Hierdie jaar het reeds uitstekend begin met ‘n eerste plek op die podium by die Mooirivier Prestige Atletiek byeenkoms.
Op 29 Januarie neem Lihann deel aan die Potch Kring Atletiek byeenkoms vir ‘n plek om deur te dring na die JB Marks byeenkoms wat op 5 Februarie plaasvind. Die Dr. Kenneth Kaunda byeenkoms in Noordwes lê in sy visier, waarna SA’s tydens Maart in Germiston plaasvind.
Lihann het groot doelwitte wat hy hierdie jaar ook in rugby wil behaal nadat hy verlede jaar gekies is om deel te wees van die Potchefstroom Distrik rugbyspan en daarna as deel van die ‘Green Squad’ wat verskeie oefeninge in verskillende dorpe bygewoon het.
Indien jy kerrie en rys by Lihann wil bestel om te help om sy sportdrome waar te maak, kan jy sy ma, Stefani, by 079 693 6397 kontak. Bestellings moet vooraf gemaak word.



