Petroluck Mfanafuthi Zulu (30) het Vrydag, 14 Februarie in die Potchefstroom-landdroshof op aanklag van die besit van ‘n beweerde gesteelde voertuig, verskyn.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê Zulu is Woensdag, 12 Februarie in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is oor ‘n gekaapte vragmotor wat vanaf Carletonville na Potchefstroom op pad was. Lede van die Openbare Orde Polisie (POP), wat op patrollie was, het die vragmotor, wat ooreenstem met die gegewe beskrywing, opgemerk en dit in Nelson Mandelastraat gestop.
“Aanvanklike ondersoek het aangedui dat die verdagtes, wat in ‘n wit Volkswagen Polo gery het, na bewering die vragmotor vroeër op Woensdag, 12 Februarie in Bekkersdal, Gauteng gekaap het. Die verdagtes wat glo Metropolisie-uniforms gedra het, het die vragmotor genader en gestop, die bestuurder met ‘n vuurwapen gedryg en hom in hul motor gedwing waarna hulle, hom uiteindelik by die Duduza-begraafplaas afgelaai het.”
Ondersoek na die saak duur voort.
Zulu sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning wat Maandag, 24 Februarie plaasvind.



