Kaptein Siya onthul Siya Kolisi manskoshuis
"As jou rug ooit teen die muur is, gaan kyk net weer na die naam op daai gebou. Dit sal jou help. Siya verdien dit," het Dr. Rassie Erasmus gesê.
Die kaptein van die Springbokke het Maandagoggend die Siya Kolisi Manskoshuis onthul.
Die Bokke se breier, Dok Rassie Erasmus, was ook daar om die Invictus koshuis te onthul. Die Dennedorp koshuis wat rugbyspelers verbonde aan die NWU se rugbyinstituut huisves is Maandag na die Siya Kolisi koshuis herdoop.
“Is daar ‘n meer trotse beeld as Siya wat die Springbokke na wereldbeker glorie lei? Siya Kolisi oortref sport, van ‘n nederige begin in Zwide tot daar waar hy die Springbokke na twee wereldbekers lei. Hy is ‘n leier en ‘n baanbreker en sy reis is ‘n getuigskrif van wat bereik kan word,” so sê prof. Bismark Tyobeka, visekanselier van die NWU oor die besluit om die koshuis se naam te verander.
Siya Kolisi het op sy beurt almal bedank wat deel van sy lewe is en hom die geleenthede gegee het om te kom waar hy is.
“Ek het nooit gedink so iets sou gebeur nie, Ons moet onthou dat ons seëninge nie net vir ons is nie, ons moet dit gebruik vir ander ook. Gebruik die geleentheid nie net vir rugby nie, maar die geleentheid om te studeer en hard te werk. Ek is nie perfek nie, maar ek leer,” het Kolisi by die opening gesê.
dr. Rassie Erasmus, het die Invictus koshuis onthul, wat as ‘n multi sport koshuis aangewend word.
“As jou rug ooit teen die muur is, gaan kyk net weer na die naam op daai gebou. Dit sal jou help. Siya verdien dit,” het hy gesê.



