Hebron, ‘n heenkome vir heelmaak
Tans het Herbron 78 mans en 34 vroue wat voltyds daar bly en drie maal per dag van etes voorsien moet word.
Hebron, geleë sowat 15km buite Potchefstroom, is die plek waar gebroke mense weer heel word.
Ouma Gretha le Roux, het hierdie nie-winsgewende organisasie op die ryp ouderdom van 60 begin. Sy vertel sy het eers met die idee geworstel.
“Die Here het vir my opdrag gegee om Hebron te begin, maar ek het vir ‘n hele maand lank daarmee geworstel. Ek het vir Hom gesê ek sal dit doen en gehoorsaam wees, al is dit onmoontlik, maar by Hom is niks onmoontlik nie.”
Ouma Gretha het Hebron in 2001 stoksiel alleen begin. Dit het twee jaar geneem om twee slaapsale te bou en als gereed te kry. In Junie 2003 kon hulle die eerste mense inneem. Van daar het dit gegroei en daar is tans 120 volwassenes wat op Hebron bly.
Vir ongeveer 10 jaar was Ouma Gretha in die gevangenis-bediening en dit is waar haar liefde vir die gebrokenes vandaan kom.
“Ons neem mense in wat sukkel om weer op hul voete te kom. Sommige van hulle het ligte oortredings en ander het grade. Ons het mense hier uit alle vlakke van die lewe.”
Sy vertel Hebron is ‘n Christelike instansie en behoort aan God.
“Die Here voorsien altyd. Ons het natuurlik ons reëls en regulasies, maar almal bring hulle kant. Take vir die dag word uitgedeel, van in die groentetuin werk, wasgoed was, skoonmaak, kosmaak, diere versorg tot by groente verwerk.” Sy vertel ook wanneer dit oesseisoen is, hulle van hul oortollige groente aan ander instansies skenk.
Daar is van die mense wat op Hebron bly, wat in die dorp werk. Die mense, sowel as mense wat vir kliniekafsprake moet gaan, hospitaal of Sassa-kantore moet besoek, word elke dag met ‘n bussie ingevat dorp toe.
“Baie mense is hier as gevolg van omstandighede en nie omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie. Ons is nie ‘n rehabilitasiesentrum nie, so ons neem nie mense met verslawings in nie.”
Pierre van den Berg doen die pastorale werk by Hebron en saam met Ouma Gretha word die berading behartig.
“Ons hoof aspek is geestelik. Dit is belangrik en verpligtend dat almal by Hebron die verrigtinge bywoon. Ons hou Sondae kerk, deur die week Bybelstudie en elke oggend toewyding,” verduidelik Pierre.
“Ons is vreeslik trots op Hebron. Dit is ‘n plek enig in sy soort.”
Hannes Lots hanteer Hebron se mediese afdeling. Daar word streng kontrole oor alle medikasie gehou. Tans het Herbron 78 mans en 34 vroue wat voltyds daar bly en drie maal per dag van etes voorsien moet word.
Hebron het ‘n waglys aangesien daar eenvoudig net nie plek vir almal is nie. Daar is groot drome vir Hebron in werking. Hulle wil hierdie jaar hulle SARS artikel 18A in orde kry sodat skenkers van SARS af kan terug eis. Hulle wil voortgaan en klaar maak met die sonpanele wat tans opgerig word. Hulle wil ook nog slaapsale aanbring, want die nood vir hawelose mense raak al groter.
Indien jy enigiets wil skenk om vir Hebron te help, is jy welkom om hulle te skakel by 063 956 6198 of 072 817 7778. Hier is wat hulle dringend benodig: -Wintersklere vir mans -Skoene vir mans (werkskoene en tekkies) -Komberse -Gedroogte produkte en blikkies kos -Stene, sement, sinke, verf, vries -en yskaste, wasmasjiene en tuingereedskap. Finansiële hulp is ook altyd welkom.





















