Local news

Nuwe leisels by Sanet Ras Prokureurs

Op 11 April is Sanet Ras Prokureurs aangewys as die beste prokureursfirma in Potchefstroom tydens die Best of Potch Readers’ Choice Awards.

Die gemeenskap is diep geraak deur die afsterwe van Sanet Ras op 26 Maart. As prokureur het Sanet het ‘n baie sterk kliëntebasis in Potchefstroom en ook die res van Suid-Afrika bedien met kundige, toegewyde en professionele regsdienste.

Sanet se verantwoordelikheidsin het haar egter in haar siekte toestand genoop om tydig reëlings te tref vir die voortbestaan van haar praktyk. Sy het hande gevat met Daniël Richards, ‘n bekende senior prokureur van Potchefstroom.

Volgens Richards was dit vir Sanet ontsettend belangrik dat haar toegewyde personeel in gunstige omstandighede moet kan voortgaan om haar duisende kliënte te kan bedien, met die bekwame en professionele diens waaraan hulle gewoond is.

Richards het Sanet se praktyk vroeër vanjaar oorgeneem. Kenmerkend van Sanet het sy die praktyk met groot sorgsaamheid oorgegee en seker gemaak dat die oorname glad verloop om te verseker dat haar kliënte in goeie hande gelaat word.

Op 11 April is Sanet Ras Prokureurs aangewys as die beste prokureursfirma in Potchefstroom tydens die Best of Potch Readers’ Choice Awards. Hierdie toekenning is ‘n sprekende bewys van die ondersteuning wat die praktyk in die gemeenskap geniet.

Daniël Richards is ‘n oudleerling van Hoër Volkskool Potchefstroom waar hy in 1985 gematrikuleer het. Hy het in 1988 by die PU vir CHO ingeskryf waar hy sy vrou, Karien, ontmoet het met wie hy 35 jaar getroud is. Hy het die grade B-Juris en LLB (met lof) verwerf en praktiseer sedert 1999 in Potchefstroom, waar hy sy klerkskap by André May Prokureurs begin het.

Richards het hom onderskei as ‘n bekwame en toegewyde prokureur en het ‘n sterk kliëntebasis, onder andere die Noordwes-Universiteit, opgebou. Hy geniet die erkenning van sy kollegas en het jare lank gedien as voorsitter van die Prokureursvereniging op die dorp. Richards het sy eie praktyk onder die naam en styl van Richards Prokureurs gevestig en het later ook die praktyke van André May Prokureurs en Viviers Ingelyf oorgeneem.

Hy word bygestaan deur ‘n sterk personeelkorps van 23 lede, waaronder Ronelle Grunder (LL.B, Aktevervaardiger & Notaris), Theresa Conradie (B.Com Ekonomie & Regte & LL.B) en Veronica Zietsman (LL.B). Hierdie personeelkorps vorm ‘n formidabele span wat die wa deur die drif kan trek in die uitdagende tye waarin ons leef.

Richards het besluit om geen veranderinge aan te bring aan die wenresep van Sanet Ras Prokureurs nie en sal kliënte te Peter Mokabastraat 101, deur dieselfde personeel met wie hulle bekend is, bedien word met die uitstekende diens waaraan hulle gewoond is. “

Ek volg ‘n oopdeurbeleid en nooi die kliënte van Sanet Ras Ingelyf om hulle sake oor ‘n koppie koffie met my te kom bespreek. Dit is vir my van uiterste belang dat Sanet se kliënte veilig moet voel en sal ek uit my pad uit gaan om almal te akkommodeer en by te staan.”

Richards spesialiseer in Boedelbeplanning, Boedelbereddering, Eiendomstransaksies, Kommersiële werk, Invordering, Familiereg asook Kontraktereg. Hy het ook bekendheid verwerf as ‘n litigasie prokureur. Kliënte kan hom kontak by 018 294 8954 asook 082 490 2979.

Daniël Richards saam met al die personeel van sy 3 praktyke.
Daniël Richards.
Personeel van Sanet Ras by die Best of Potch.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button